|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum se privaatvervolgingseenheid se steun aan slagoffers en volgehoue druk om geregtigheid te verseker het daartoe bygedra dat Yolande Maritz uiteindelik in die hof gaan verskyn op klagte van aanranding. Maritz is voorheen deur die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging (SARV) as vroedvrou gederegistreer ná sy skuldig bevind is aan nalatige en onprofessionele optrede. Die privaatvervolgingseenheid verteenwoordig vir Carien Möller en Alysia von Kloëg in hierdie saak.

In ’n ander saak moes die privaatvervolgingseenheid ’n skrywe aan die Nasionale Vervolgingsgesag rig oor ’n saak van strafbare manslag wat sloer. Dit volg nadat die eenheid genader is om ondersoek in te stel omdat die polisie sloer met die ondersoek na die ongeluk wat Danielle van Jaarsveld se dood veroorsaak het.

Suid-Afrika is in ’n waterkrisis en daarom het AfriForum vandeesweek ’n waterberaad gehou waartydens die organisasie en verskeie kenners die krisis belig het en oplossings bespreek het. Die burgerregteorganisasie het ook sy nuutste dokumentêr Running Dry – A Nation on the Brink bekend gestel.

Inwoners van Heilbron gaan vir etlike maande reeds gebuk onder watertekorte en indien Rand Water voortgaan en waterbesnoeiings toepas sal dié dorp se krane waarskynlik opdroog. AfriForum het daarom ’n beroep op dié waterraad gedoen om nie inwoners te straf weens die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se wanbetaling nie.

Om inwoners te help met die talle watertekorte wat landwyd voorkom, het AfriForum reeds meer as 90 noodwaterpunte opgerig. Die nuutste waterpunte is in Faerie Glen, Pretoria, en in Bronkhorstspruit opgerig. In Faerie Glen is die waterpunt by die NG Kerk Valleisig opgerig en die waterpunt sal tydens wateronderbrekings aan inwoners van Garsfontein en Faerie Glen water voorsien. Inwoners van Bronkhorstspruit kan by Hoërskool Erasmus van die AfriForum-noodwaterpunt gebruik maak.  

Die AfriForum-tak in die Paarl het in samewerking met Rukata Combat Systems ’n selfverdedigingsessie aangebied en 23 deelnemers het geleer hoe om aanvalle wat met wapens soos messe of pangas uitgevoer word, af te weer.

AfriForum se Bronberg-tak het die 24 brandkrane in Kleinfontein nagegaan om seker te maak dat dit wel in ’n werkende toestand is. Die tak het ook seker gemaak dat dié krane behoorlik met bordjies gemerk is en van die krane is ook oorgeverf sodat dit duidelik sigbaar is. Hierdie tak is ook besig met voorbereidings om ’n noodwaterpunt op te rig.

In Boksburg het die AfriForum-tak 70 sakke vullis verwyder ná ’n skoonmaakprojek in Ravenswoodlaan en Tiendestraat.

AfriForum se strukture in Germiston, Edenvale, Alberton en Kempton Park het saam met die Ekurhuleni-metropolisie en privaat sekuriteitsmaatskappye gewerk om inwoners van Klopperpark in Germiston teen onwettige grondgrype te beskerm. In ’n poging om hierdie uitdaging op te los, het dié AfriForum-takke en die gemeenskap ook die oop veld skoongemaak. Bome en bosse is gesny en meer as 30 sakke rommel is verwyder.

Marius van Rensburg, ’n bekende inwoner van Bethlehem, is ná ’n grootskaalse soektog opgespoor. Sy vrou het ’n AfriForum-buurtwaglid gekontak nadat Van Rensburg, wat aan dimensie ly, met sy motor weggery het. Die buurtwag is ontplooi en Besthsec Sekuriteit en BBS-Bethlehem Beheersentrum het ook hul kamerastelsel ingespan om met die soektog te help. Van Rensburg is die volgende oggend om 06:00 deur ’n lid van die gemeenskap gewaar en na die MediClinic geneem.

AfriForum se Bethal-tak het weer met ’n reusegroenteoes gespog toe 100 kg spinasie uit die tak se groentetuin geoes is. Dié spinasie is aan die Silwerjare-tehuis vir bejaardes geskenk.

In Pretoria het die Pionier-tak niebederfbare kos en gevriesde vleisprodukte aan die Beterskap Aftreeoord geskenk.

Ongeveer 50 mense het vanjaar saam met AfriForum se Potchefstroom-tak die duisende vroue en kinders herdenk wat oor die land heen tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) in konsentrasiekampe gesterf het. Lede van dié tak het die kort toneelstuk Weg met die kampskool deur Gideon Wentink opgevoer, waarin die werklikhede van konsentrasiekampe geïllustreer word. 

AfriForum se teenboelieveldtogspan het die leerders van Laerskool Elarduspark besoek en hulle bemagtig om boeliegedrag te bekamp. Die teenboeliespan het ook saam met Natasha Smit, ’n dieetkundige, besoek afgelê by Solidariteit Helpende Hand se Pretoria-Oos-streek se Taai Meraai-vakansieprogram vir meisies. Hulle het onderwerpe soos sosiale media, emosionele intelligensie en ’n positiewe liggaamsbeeld met die gr. 8- en 9-meisies bespreek.

Soortgelyke plasings