|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum se takke het vandeesweek op verskeie maniere hul deel gedoen om hul dorpe ’n mooier plek te maak. Debatspanne in die Verre-Noorde van die land het ook in die jaarlikse Dink of Sink-kompetisie uitgeblink en die Germiston-buurtwag het met hul snuffelhond smokkelware opgespoor.

Die Germiston-buurtwag het met hul snuffelhond, Storm, smokkelware opgespoor. Storm is spesifiek opgelei om dwelms uit te snuffel, maar dit was tydens ’n blaaskans wat die patrollie ’n winkel binnegestap het toe Storm aangedui het twee klante in die winkel steek smokkelware weg. ’n Onwettige vuurwapen en dwelms is uitgesnuffel.

Fikile Mbalula, minister van Vervoer, het in die hofrekord in AfriForum se hofsaak om die vyfjaarlikse hernuwing van bestuurslisensie te skrap, erken die wetgewing rondom die vernuwings van dié lisensies is wel nie duidelik oor of die kaarte ná vyf jaar hernu moet word nie. Die rede wat hy aanvoer vir die vyfjaarlikse hernuwing is dat die materiaal wat destyds gebruik is om die kaarte van te maak nie langer as vyf jaar hou nie. Dit blyk nou ook dat Mbalula, vanweë die openbare druk op die departement van Vervoer, tog oorweeg om die hernuwingstydperk van bestuurslisensiekaarte van vyf jaar na tien jaar te verleng.

Byna ’n honderd leerders het by Hoërskool Merensky bymekaar gekom vir die Verre-Noord-streeksuitdun van AfriForum se Dink of Sink-debatskompetisie. Ná ’n vuurwarm debat het Hoërskool Louis Trichardt se Junior Span 1 as wenners in die junior kategorie uit die stryd getree. Hulle opponente in die finale debat was Junior Span 1 van Hoërskool Merensky. Die senior stryd was ewe fel. Daar het Senior Span 1 en Senior Span 2, beide van Hoërskool Pietersburg, teen mekaar te staan gekom. Span 1 het net-net daarin geslaag om stof in die oë van hulle teenstanders te skop.

AfriForum se Amanzimtoti-tak het met die hulp van taklede en vrywilligers verskeie opheffingsprojekte van stapel gestuur. Die treinbrug voor die Kuswag Skool is veiliger gemaak deur geroeste metaal te verwyder en die voetoorgang voor die skool is ook oorgeverf. Daar is ook by die Merebank-konsentrasiekampterrein skoongemaak.

Die Upington-tak het saam met die DA die verwaarloosde speelparkie in Stasiekamp opgeknap. Sowat 16 ton bourommel en vullis is weggery.

Soortgelyke plasings