|

AfriForum se Lydenburg-tak maak groot skenking aan Laerskool Lydenburg se plaveisel-projek 

Die AfriForum-tak in Lydenburg het die afgelope maand R25 000 aan Laerskool Lydenburg se plaveisel-projek geskenk. 

Laerskool Lydenburg is tans met ’n projek besig om die veiligheid van hul leerders voor, en ná skool te verseker. Plaveisel met randstene word voor die skool gelê om die verkeersvloei te reguleer en sodoende te beveilig.

“Die swak padoppervlak het in die verlede verkeersopeenhopings voor die skool veroorsaak wat ’n groot risiko vir die leerders ingehou het, dus is daar besluit om die plaveisel-projek van stapel te stuur,” sê Erich Venter, voorsitter van AfriForum se Lydenburg-tak.

“Dit is vir ons ’n voorreg om die skool in die projek te ondersteun, aangesien die leerders se veiligheid van kardinale belang is. Hulle is ons toekomstige leiers en daarom wil ons verseker dat hulle veiligheid ook ’n prioriteit is. Dit was lekker om saam met die bestuur van hierdie laerskool te werk om sodoende ’n rol in die projek te speel,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

AfriForum se Lydenburg-tak nooi graag die publiek uit om deel te word van die tak om sodoende ’n verskil in die gemeenskap te maak. SMS die woord “Lydenburg” na 45340 (R1) om aan te sluit. 

*Foto (van links na regs) Erich Venter, Erno Raath en Ben Ehlers.

Soortgelyke plasings