|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

Alhoewel die jaar amper verby is, is AfriForum se takke steeds hard aan die werk in hulle onderskeie dorpe.

Die Durbanville-tak het ingespring om hulle omgewing skoon en netjies te maak in aanloop tot die Feestyd. Kleuterskoolkinders in Durbanville het ook by die AfriForum-kantoor besoek afgelê waartydens daar met hulle gesels is oor hoe hulle tydens die vakansie veilig kan bly.

In Potchefstroom is die gras by die Alexander Park-begraafplaas gesny en die bome is gesnoei.

Die Mooirivier-buurtwagte het in November saam met die polisie en ander veiligheidsinstansies gewerk om hulle onderskeie dorpe te beveilig. Die Hartbeesfontein-buurtwag het gehelp om gewapende rowers wat vir moord gesoek is aan te keer. Die Stilfontein-buurtwag het verdagtes aangekeer vir koperdiefstal en diefstal van die lyndraadpale. Die Bothaville-buurtwag het verdagtes gearresteer wat ligte van mure af steel en by ’n kerk ingebreek het. Dié buurtwag het ook gesteelde goedere teruggevind.

Die Westonaria-tak het 400 verskillende vervormbare metaalbuise van koper (ferrules) en ’n boks isolasieband aan die Wes-Rand Plaaslike Munisipaliteit geskenk aangesien hierdie munisipaliteit nie oor die nodige fondse beskik nie en werknemers nie meer die aankope uit hul eie sak wil aangaan nie.

Altesaam 31 vrywilligers in Gauteng het weens die toename in plaasaanvalle en geweldsmisdaad opleiding by AfriForum se traumaeenheid ontvang sodat slagoffers op die toneel ondersteun kan word.

Die Vaal Emergency Care- privaat ambulansdienste het onderneem om gratis ambulansdienste aan lede van AfriForum se Deneysville-tak te bied tydens lewensbedreigende noodgevalle soos skietwonde en hartaanvalle.

AfriForum het vandeesweek ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) op Transnet beteken om inligting te bekom oor alle aktiewe kontrakte wat met diensverskaffers vir vervoer en sekuriteit aangegaan is en om inligting te bekom oor die toestand van Transnet se hawe-, trein- en spoorinfrastruktuur. AfriForum wil ook met hierdie aansoek weet hoeveel diefstalklagte Transnet by die SAPD aanhangig gemaak het.

AfriForum het vroeër vanjaar Die boer en die reg aangebied en vervaardig met die doel om meer regsekerheid vir boere te skep rakende verskeie uitdagings wat landelike bewoners in Suid-Afrika ervaar. In die reeks, wat nou op AfriForumTV beskikbaar is, gesels regskenners en verteenwoordigers van landbouorganisasies oor onderwerpe soos grondgrype, betreding, plaasaanvalle, noodweer en selfverdediging en gee ook duidelikheid oor wat boere te doen staan in sulke gevalle.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vir Chris en Harry Giannacopoulos gehelp om strafregtelike klagte van bedrog en meineed teen drie senior bestuurders van die Spar-groep in Gauteng in te dien.

Soortgelyke plasings