|

Labuschagne se ervarings oor bykans 50 jaar tussen diere is pure leesgenot

Daar is bitter min mense soos Willie Labuschagne en waarskynlik nog minder wat so ’n interessante en kleurryke lewe en loopbaan tussen diere en in dieretuine gehad het.

Hy was onder meer direkteur van die Johannesburg Dieretuin, uitvoerende direkteur van die Nasionale Dieretuin in Pretoria en ook president van die World Association of Zoos and Aquaria. In 2006 is hy ook deur wyle Sheik Khalifa bin Zayed Al Nahyan, president van die Verenigde Arabiese Emirate, gekies om sy private departement van natuurbewaring te bestuur. Hy het in 2015 na Suid-Afrika teruggekeer.

Labuschagne se eerste boek, The soul of a lion, reflections on a life lived with animals, is onlangs gepubliseer en reeds ’n topverkoper.

Willie Labuschagne

Natuurliefhebbers en ook diegene met ’n belangstelling in die land se Nasionale Parke, wildediere en natuurbewaring in die algemeen, sal Labuschagne se vertellings en beskrywings verkwikkend vind en baie geniet.

Die boek dek verskeie periodes van Labuschagne se lewe asook die onvergeetlike, aangrypende en met tye lewensbedreigende ervarings wat hy plaaslik, in Namibië, in Mosambiek, Kuba en selfs op die grens tussen Oos- en Wes-Berlyn gehad het. Daar is ook heelwat komiese vertellings wat die leser by sy leefwêreld intrek. Nog ’n groot pluspunt is die goed nagevorste feite wat byna terloops ingewerk is, maar sonder twyfel ook tot die lekkerlees en geloofwaardigheid van die mededelings bydra.

Mense het nie met dié bemanning gemors nie … Een van hulle was Dimitri Tsafendas, die man wat dr. Hendrik Verwoerd op 6 September 1966 vermoor het.

Hy bring ook op ’n besonderse wyse eer aan sy pa en mentor, Rudolph Johannes Labuschagne (Oom Lappies), wat sonder twyfel ook een van die grootste natuurbewaarders was wat die land ooit oplewer het.

Vandat Labuschagne, wat in die Volksrust-omgewing gebore en in die vroeë vyftigs in die Kruger Nasionale Park opgegroei het, kan onthou wou hy in sy pa se voetspore volg. Oom Lappies was toe inligtingsbeampte by die Nasionale Parke Raad van Suid-Afrika.  

Vir die jong Willie was daar nie ’n beter plek as hier om die Afrika bosveld te ontdek nie. Die Krugerwildtuin was nog ongerep, daar was nie soveel kampe nie en ook nie elektrisiteit en lugversorging nie. Hy het so baie oor diere geleer en interaksie met hulle gehad soos met die hiëna waarvan daar vier spesies (die gestreepte, gevlekte en bruin hiëna en die insekvretende aardwolf) is. Die gevlekte hiëna word in sekere etniese Afrika-gemeenskappe met respek bejeën. In sekere dele in Tanzanië is geglo hekse gebruik dié  hiëna as rydier, terwyl daar ook geglo is dat as ’n kind gebore word terwyl die hiëna lag die kind as ’n dief sal opgroei.

Labuschagne het aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer. In die 1960’s het baie organisasies vakansiewerk vir BSc-studente aangebied. So het hy in die Namibwoestyn en in die Skedelkus/Sperrgebiet ’n draai gemaak. Hier ontdek hy ’n verrassende verskeidenheid diere en plante wat oor eeue aangepas het om in die harde omstandighede te oorleef. Soos die welwitschia wat met wortels, ’n stam en net twee blare ’n lewensverwagting van 1 500 jaar het. ’n Plant waarna as ’n lewende fossiel verwys word.

Opwindende, maar ook vreesaanjaende tye speel by Fort Reef in die Sperrgebiet af waar diamante uit die oseaan ontgin is en sy taak onder meer was om die koördinate van vragskuit 111 te bepaal. Vragskuit 111 het nie ’n enjin gehad nie en was basies ’n stuk metaal geanker tussen ses swaargewig ankers. Mense het nie met dié bemanning gemors nie … Een van hulle was Dimitri Tsafendas, die man wat dr. Hendrik Verwoerd op 6 September 1966 vermoor het. Daar is gesê sy kontrak met die Marine Diamond Corporation is weens mediese redes gekanselleer.

Labuschagne is sy lewe lank gefassineer deur woestyne en eksotiese plekke en hy is aangedryf deur die uitdaging om in ekstreme omgewingstoestande te oorleef en die onbekende te ontdek.

Sy kindertyddroom was om in die Etosha Wildreservaat te werk. Etosha kom uit die Oshindonga-taal wat “groot wit plek” beteken. Dit verwys na die uitgestrekte soutpan. In 1967, as ’n finalejaarstudent in dierkunde en entomologie, begin hy hier werk ter voorbereiding vir sy nagraadse studies in ekologie en wildlewebestuur. Geriewe was maar skraps en hy het onder meer met ’n sak mieliemeel en kilogram sout by die Okaukuejo-kamp opgedaag. Gelukkig was hier duisende turksvybosse, inheems aan Amerika, waarmee hy sy karige spyskaart kon aanvul.

Labuschagne skryf ook oor sy ervarings in die Tsitsikamma Nasionale Park (deesdae die Tuinroete Nasionale Park). Die naam is afkomstig van die Khoi en beteken vars- of bruiswater. Die Tsitsikamma is deel van die inheemse Knysnawoud en die tuiste van meer as 116 soorte reusebome. Labuschagne dek ook die geskiedenis van die woud en die groot olifante en vertel van die rol wat hy in sy honneursjaar gespeel het in die ontwikkeling van die Otterwandelpad en hoe ’n groot eer dit vir hom was. Die wandelpad sou internasionaal bekend word.

’n Baie groot hoogtepunt in sy loopbaan was sy tyd en die navorsing wat hy vir sy meestersgraad in die Kgalagadi Gemsbok Nasionale Park gedoen het. Die park strek oor meer as 10 000 vierkante kilometer.

Sy navorsing was gemik op die nasporing, analise en interpretasie van jagluiperd-spore wat baanbrekerswerk was. Hy het aanvanklik baie teenkanting uit universiteitsgeledere gekry van mense wat gemeen het dit is nie moontlik om dit te doen nie. Eie aan Labuschagne se aard het hy nie moed opgegee nie en deurslaggewende navorsing op die terrein gedoen wat tot indrukwekkende resultate gelei het. Daar is ook ’n hoofstuk hieroor in die boek vervat.

Labuschagne beklemtoon dat hierdie werk nie moontlik sou wees sonder die noue verbintenis, samewerking en hulp wat hy van die Boesmans en hul spoorsnykuns gehad het. Hierdie interaksie, vriendskappe wat gesmee is en belewenisse saam met hulle, asook die keer toe hy diep in die oë van ’n maanhaarleeu gestaar het, is iets wat hom lewenslank sal bybly.

Ná die Kgalagadi het hy hoof van die Departement Entomologie vir die Karoostreek geword waar hy by die Grootfontein Navorsingstasie in Middelburg in die Kaap gestasioneer was. Sy opdrag was om ’n oplossing te vind vir die verwoesting van weivelde wat die Karoo ruspe veroorsaak het.

In Oktober 1972 verhuis hy na Johannesburg waar sy 50 jaar in dieretuinbestuur begin het. Dit was goeie jare en hy en sy vrou, Irene, en twee kinders, Antoinette en Rudolph, se lewe was nou verweef met die van diere. Daar was welpies en ander diere wat met die hand grootgemaak is soos Oubaas/Sebastian en waarvan almal met hartseer afskeid moes neem toe hy nege maande oud was.

Dit is ook in die dieretuin waar eerstes plaasgevind het soos die geboorte van die eerste olifant Lammie en die eerste wit leeu Bella.

‘n Uittreksel uit The soul of a lion

Labuschagne het gedurende sy loopbaan baie internasionale en ander bekendes ontmoet en mee saamgewerk. Die ontslape Koning Goodwill Zwelithini kaBhekuzulu was een van hulle en iemand waaroor Labuschagne met die grootste agting en respek skryf. In die middel 1970’s het een van die koning se assistente hom genader om ’n paar swart vere van die blou kraanvoël, Suid-Afrika se nasionale voël, vir die koning te kry. Die voël het ’n betekenisvolle rol in die Xhosa en Zoeloe-volkskunde en die koning dra die kraanvoëlvere tydens tradisionele seremonies in sy hoofbedekking. Die koning het sy dank betuig met ’n besoek aan die dieretuin. Hulle het mekaar daarna weer by verskeie geleenthede gesien en hegte verhouding gehad.

Labuschagne het drie jaar aan The soul of a lion geskryf.

In die woorde van sy jarelange vriend dr. Sidney Shipman, sal die boek ’n verskeidenheid emosies by lesers wakkermaak. “In die boek demonstreer Willie dat hy nooit iemand was wat die “ja meneer, nee meneer, drie sakke vol meneer”-kode gevolg het nie. Hy het altyd respekvol opgetree en sy verhouding met mense oor alle rassegrense heen getuig hiervan. Willie is ’n mens met die siel van ’n leeu.”

The soul of a lion is by alle vooraanstaande boekwinkels beskikbaar.

Soortgelyke plasings