|

AfriForum vra om waterkrisis in Parys as ramptoestand te verklaar

AfriForum se Parys-tak het gister by die provinsiale sowel as die nasionale Rampbestuur aangevra dat die waterkrisis in Parys ’n plaaslike ramp verklaar word. Dit is gedoen omdat die toestand van Parys se water aan die definisie van ’n ramp voldoen. Die oorsaak van dié ramp is mensgemaak en kan dood, besering, siekte, skade aan eiendom, infrastruktuur, die omgewing en ontwrigting van ’n gemeenskap veroorsaak of daartoe lei. Indien die toestand tot ’n ramp verklaar word kan daar spesifieke fondse, hulpbronne en gebeurlikheidsplanne in plek gesit word om die situasie te verbeter.

Die aansoek spruit uit die feit dat die drinkwater in Parys met E. Coli besmet is en die munisipaliteit nie ’n daadwerklike poging aanwend om die toestand om te keer nie. Benewens die feit dat die water ongeskik vir menslike gebruik is, is daar ook dele van Parys waar mense vyf jaar laas water in hulle krane gehad het. Die watersuiweringswerke is glad nie op standaard nie, en fase ses beurtkrag verbeter ook nie die situasie nie.

“Indien die toestand van Parys se water as ’n ramp verklaar word, kan die fondse, hulpbronne en gebeurlikheidsplanne wat dan in plek gestel moet word, gebruik word om die inwoners van skoon drinkwater te voorsien. Ons wil net hê dat al die inwoners van groter Parys toegang tot skoon drinkwater in hulle krane het, want dit is hulle grondwetlike reg. Die optog wat die inwoners van Tumahole eergister gehou het, het ook duidelik getoon dat hulle nie meer nou en dan water uit ’n tenkwa wil hê nie, maar ’n kraan wil oopdraai en skoon water daaruit tap. Die gerugte van ongerymdhede met betrekking tot die tenkwaens versterk hierdie gevoel,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Soortgelyke plasings