|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum en Solidariteit het vandeesweek die regering se rasgedrewe agenda ’n nekslag toegedien met ’n beslissing in die Konstitusionele Hof wat in hul guns was. AfriForum se takke het ook skouer aan die wiel gesit en verskeie volhoubare projekte aangepak en die polisie gehelp om verdagtes aan te keer.

Die Departement van Toerisme se appèl teen die 2021-uitspraak wat bevind het hul besluit was onwettig om swart ekonomiese bemagtiging as kriteria te gebruik vir die ekwiteitsfonds wat hulp aan ondernemings verleen het, het misluk. Hoofregter Raymond Zondo het die regering se appèl van die hand gewys omdat dit nie meer betwisbaar is nie. Die ekwiteitsfonds is in 2020 gestig om ondernemings in die toerismebedryf wat tydens die Covid-19-pandemie swaar getrek het, te help. Dit het egter aan die lig gekom dat net besighede met ten minste 51% swart eienaarskap vir hulp in aanmerking gekom het.

Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van regsake by Solidariteit, het die kriteria as rassisties beskryf.

Die boodskap word nou gestuur dat die regering nie ras as ’n troefkaart bo alle ander belange kan gebruik nie.

“Hierdie uitspraak is ʼn harde hou vir die Suid-Afrikaanse regering in sy stryd om sy ‘reg’ om te kan diskrimineer op grond van ras te probeer beskerm,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Die polisie in Primrose het vandeesweek AfriForum se Germiston-buurtwag se hulp ingeroep om twee verdagtes vas te trek. Met die buurtwag se hulp is die vermeende misdadigers binne 24 uur aangekeer.

In Marble Hall het die AfriForum-tak ’n leierskapontwikkelingskursus by die Laerskool Marble Hall aangebied. In dié kursus is konflikhantering, selfwaarde, kommunikasievaardighede en liggaamstaal bespreek. 64 leerders het die kursus bygewoon.

Magdel Jansen van Vuuren, distrikskoördineerder vir Limpopo, by die Laerskool Marble Hall

“Dit is belangrik om jou waarde van ’n jong ouderdom af te verstaan, daarom het ons die inisiatief geneem om hierdie kursus aan te bied. Ons fokus daarop om jong leiers met die nodige vaardighede toe te rus om hulle taak makliker te maak,” sê Magdel Jansen van Vuuren, distrikskoördineerder vir Limpopo.

AfriForum se Bloemfontein-takke het vier nuwe projekte geloods. Dié nuwe projekte fokus op Du Plessisstraat in Langenhovenpark en ’n groot gedeelte van Nelson Mandelarylaan, Curielaan sowel as die parkie in Gardeniapark in Orchidstraat. Daar is reeds deurlopende aksies waar die Ou Presidensie, Brits Monument en President Brand-begraafplaas skoongemaak word. Die projekte word aangepak om Bloemfontein skoon te hou en erfenis te beskerm. Voorts word veiligheid bevorder deur lang gras en bosse te sny en sodoende wegkruipplekke vir misdadigers te beperk.

In Bethal is plekke waar daar sedert November nie water in die krane is nie. Daar was nog geen verduideliking van die Govan Mbeki-munisipaliteit hoekom die reservoirs nie volgemaak word nie. AfriForum se noodwaterpunt by die AC Vorentoe Kerk het gedurende die moeilikste tyd van die krisis egter elke tweede dag 30 000 liter water ontvang en die een in Noordlaan ’n verdere 20 000 liter per week wat aan die gemeenskap beskikbaar gemaak word. Dié tak werk tans aan ’n uitgebreide plan om die waterkrisis op die dorp beter te bestuur.

Soortgelyke plasings