|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek ’n dokumentêr, Selfbestuur: Staatsbestande oplossings vir die toekoms, bekendgestel wat die beginsel van gemeenskapsfederalisme verduidelik. Dié dokumentêr bespreek AfriForum se ankergemeenskappe-inisiatief, internasionale voorbeelde van federalisme in aksie, provinsiale outonomie, groeiende outonomie vir die Wes-Kaap, Orania, Pretoria as kulturele kanton, en vele meer.

Die privaatvervolgingseenheid tree ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag op nadat Carien en Jaco Möller en Alysia en Brendon von Kloëg onderskeidelik klagtes van strafbare manslag en poging tot moord aanhangig gemaak het teen Yolande Maritz, ’n voormalige vroedvrou van Pretoria. Dit volg nadat nalatigheid tydens die geboortes glo gelei het tot die dood van die Von Kloëgs se baba nege dae ná sy geboorte en die Möllers se dogtertjie serebraal gestremd gelaat is.

’n Pa en sy twee dogters van Eersterust het meer as twee jaar ná ’n saak geopen is vir die eerste keer in die hof verskyn op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die Nasionale Vervolgingsgesag het eers vervolging ingestel nadat die privaatvervolgingseenheid druk moes toepas.

Uitspraak is ook voorbehou in AfriForum en ander se saak teen die Johannesburg Metro oor die buitensporige verhoging van onderwysinstellings se eiendomsbelasting.

Op takvlak is daar hard gewerk en die Upington-tak het verskeie stoptekens by vierrigtingkruisings opgerig om motoriste se padveiligheid te verbeter.

AfriForum se Klerksdorp-tak het saam met die Doringkruin-buurtwag en inwoners van Doringkruin tien nuwe stoptekens opgerig en slaggate herstel sodat dié woonbuurt weer soos ’n spogbuurt kan lyk.

Die Standerton-tak het weer die Voetsporemonument skoongemaak en beplan verdere opknappings by dié monument.

Die Moreletapark-buurtwag in Pretoria het die brandweer gehelp om ’n groot boom te verwyder wat omgeval en die pad gedeeltelik versper het.

Twee lede van die AfriForum-buurtwag in Bellville het twee vermeende inbrekers vasgetrek en ’n burgerlike arrestasie uitgevoer nadat buurtwaglede ’n boodskap ontvang het oor ’n inbraak by ’n perseel.

Die organisasie het ook briewe en aanmanings aan verskeie munisipaliteite gestuur. Die Viljoenskroon-tak het ’n dringende brief aan die Departement van Polisie, Paaie en Vervoer gerig oor die gebrek aan waarskuwingsborde op die R59 wat steeds oorspoel en onbegaanbaar is. Die Sasolburg-tak is besorg oor die swak vakmanskap waarmee die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit slaggate herstel. In Springs het die tak hul regspan opdrag gegee om ’n brief aan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika en die Ekurhuleni Metro te oorhandig sodat die voortslepende probleme met elektrisiteitsvoorsiening weens swak instandhouding, opgelos kan word.

Soortgelyke plasings