|

FAK-liedjietuin lewende museum vir kunstenaars se musiekbydrae

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het sedert die Afrikaanse Liedjietuin in 2013 tot stand gekom het al 50 kunstenaars in dié lewende museum vereer. In die pragtige tuin aan die voet van die Voortrekkermonument is liedjies van kunstenaars soos Mathys Roets, Lucas Maree, Laurika Rauch, Mimi Coertse, Sias Reinecke en onlangs ook Theuns Jordaan op granietblaaie aangebring.

Die tuin spog ook met pragrose wat na kunstenaars vernoem is van die bekende kwekery Ludwig’s Roses.

Jordaan se bydrae is op 24 Maart tydens ’n spesiale geleentheid met vriende en familie vereer met die onthulling van sy liedjiebord. Jordaan se pa, Willie, en sy suster, Linda, het dié geleentheid bygewoon.

Kunstenaars kies gewoonlik self die liedjie en Willie het voorgestel dat die lied Vreemde stad gebruik word. “Dit is ’n lied wat Theuns geskryf het nadat hy van Stellenbosch na Pretoria verhuis het om sy sangloopbaan te begin,” sê Willie.

Vreemde Stad is dan ook die 50ste bydrae tot die Liedjietuin.

“Die Liedjietuin is ’n plek waar ons erkenning wil gee aan die groot bydrae van ons kunstenaars. Musiek is nie net woorde en note nie, musiek is ’n hartstaal en Theuns het daardie hartstaal met ons almal gepraat,” sê Danie Langner, besturende direkteur van die FAK.

Volgens die FAK is Theuns se legendariese erfenis nou vasgemessel tussen ander reuse van die Afrikaanse musiekbedryf en word sy nalatenskap op hierdie manier gevier. Hy gaan verder deur die FAK gehuldig word deur van sy liedjies in die nuwe FAK-Sangbundel op te neem. Dié bundel sal in 2029 verskyn.

Die FAK het ook Saterdagaand tydens ’n huldigingskonsert vir Theuns, wat op Loftus Versfeld in Pretoria gehou is, ’n toekenning aan Willie oorhandig. Op dié toekenning is ook die woorde van Vreemde Stad sowel as ’n bedanking aan die sanger vir sy bydrae tot die bevordering van Afrikaanse musiek vir meer as 20 jaar.

Duisende aanhangers het die konsert bygewoon waar bekende kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Bok van Blerk en Rikus Nel hulde aan hul vriend gebring het en sy liedjies gesing het.

Theuns is in November 2021 op 50 aan kanker oorlede.

Die FAK se Afrikaanse Liedjietuin is oop vir die publiek en mense kan gerus piekniek gaan hou of die lapa bespreek vir ’n lekker braai saam met goeie vriende. Die tuin is ook die perfekte venue vir kinderpartytjies, tuinfunksies, tuintroues, klein opelugvertonings, damestees, kombuistees of eindjaarfunksies.

Besoek die FAK se webwerf vir meer inligting of stuur ’n e-pos aan Lieandri Ackermann by lieandri@kultuurtuiste.org.za.

Soortgelyke plasings