|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

Terwyl Julius Malema en die EFF vandeesweek vergeefs gehoop het om die land tot stilstand te ruk, het hy en sy party in ’n ander saak hul rieme in die Konstitusionele Hof styfgeloop.

Die hof het Malema en die EFF se aansoek om verlof tot appèl teen ’n interdik wat AfriForum in 2017 bekom het van die hand gewys. Hierdie interdik het Malema en die EFF verbied om mense aan te hits om onwettig grond te beset. Die EFF het in Januarie 2023 by die Hooggeregshof in Pretoria om verlof tot appèl aansoek gedoen wat dit geweier het. Hulle was toe genoop om die Konstitusionele Hof te nader. Dié beslissing is ’n oorwinning en het die ongrondwetlikheid van aanhitsing tot betreding van privaat eiendom beklemtoon, sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte van AfriForum.

Ernst van Zyl, veldtogbeampte van AfriForum

Hoewel die Konstitusionele Hof nie ’n kostebevel gemaak het nie, moet Malema steeds AfriForum se regskoste in die hooggeregshofsaak betaal. Indien hy versuim, sal op die EFF se bates beslag gelê word.

Malema en die EFF se pogings om die land tot stilstand te dwing is uit verskeie oorde as ’n reusemislukking beskryf. Die flink optrede van AfriForum se meer as 160 buurtwagte het ongetwyfeld ook ’n groot rol gespeel om die EFF se planne in die wiele te ry. AfriForum se buurtwagte was reeds sedert Sondag op gereedheidsgrondslag en het vinnig gereageer waar daar wel Maandag sporadiese voorvalle was. Die dag is ook gekenmerk deur goeie samewerking met plaaslike GPF’s en die SAPD.

Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid

AfriForum verwelkom die uitstel van die chaotiese openbare raadplegingsessies vir die beoogde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys (ook bekend as die BELA-wet). “Die proses was van meet af problematies. Datums, tye en lokale is op kort kennisgewing bekendgemaak en gewysig. Hierdie konstante onsekerheid oor die besonderhede van sessies het tot gevolg dat mense al minder gewillig is om aan die proses deel te neem, wat presies die teenoorgestelde is as wat die sessies veronderstel is om te bereik,” sê Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake.

In die lig van die teenstand wat die konsepwet reeds met skriftelike insette en parlementêre voorleggings gekry het, glo AfriForum dit sal beter wees om die konsep te skrap en van voor af oor die hersiening van die bestaande skolewetgewing te besin.

AfriForum se Delmas-tak het die afgelope week ongeveer 50 sakke teer gebruik om verskeie slaggate in die dorp te herstel en in Kimberley het die AfriForum-buurtwag die afgelope maand verskeie opleidingsessie bygewoon om lede met vaardighede te bemagtig om verskeie situasies wat kan opduik te hanteer.

Soortgelyke plasings