|

Heilbron-tak besoek besoedelde Elandspruit saam met DWS

Die AfriForum-tak in Heilbron het op 22 Maart saam met twee persone van die Departement van Water en Sanitasie (DWS) en ’n afvaardiging van boere wat langs die besoedelde Elandspruit woon, ’n besoek afgelê aan die oorspronge van die besoedeling. Die saak spruit uit ’n dringende brief wat in November 2022 aan die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit sowel as aan die Departement van Water en Sanitasie, landbouorganisasies, die Departement van Omgewingsake en die Fezile Dabi-distriksmunisipaliteit gerig is oor die besoedeling in die Elandspruit. Die riool- en vullisbesoedeling in die Elandspruit is só erg dat die diere nie die spruitwater wil drink nie en daar al diere dood is van die water, terwyl ander, wat noodgedwonge deur die spruit moet loop, se pote gevrot het. Daar is ook geen visse of ander lewe in die spruit oor nie. Tot op hede is daar nog geen reaksie van die Ngwathe-munisipaliteit ontvang nie, maar die Departement van Water en Sanitasie het wel gereageer en ’n besoek gebring.

Die groep het die spruit self besoek, waar uitgewys is hoe vuil die water is. Die oorspronge van die probleem is ook besoek, naamlik die onwettige vullisterrein, waar die vullis in die spruit inwaai en ook die onderaardse water besoedel, en die rioolwerke, wat nie in ’n goeie werkende toestand is nie hoofsaaklik omdat daar min van die riool wat na die werke moet kom, by die werke uitkom. Die probleem spruit uit die feit dat die pompstasie wat die riool na die rioolwerke moet pomp, glad nie werk nie of nog nie voltooi is nie. Die rioolwerke is glad nie goed onderhou nie, die gras het die terrein oorgroei en die munisipaliteit doen niks daaraan nie. By die pompstasie het die afvaardiging bevind dat die hek af is, maar hoewel daar ’n bord aangebring is wat toegang verbied, kan enigiemand daar ingaan. Die pompkamer is nie gesluit nie en daar is bevind dat een van die twee pompe vermis word en dat daar reeds kabeldiefstal plaasgevind het. Daar is ’n dam in ’n woonbuurt wat vol rou riool is. Hierdie toestand het tot gevolg dat die riool nooit by die rioolwerke uitkom nie en dus direk in die Elandspruit invloei.

Die afvaardiging van die DWS het foto’s geneem en aantekeninge gemaak en onderneem om ’n verslag saam te stel en met die munisipaliteit te handel oor hierdie onaanvaarbare, lewensbedreigende situasie.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier, is hierdie situasie ontoelaatbaar. Nie net verloor die boere van hulle vee nie, maar die waarde van hulle grond sal ook val omdat die water, wat eens ’n groot bate was, nie gebruik kan word nie. “Dit is skreiend dat die munisipaliteit toegelaat het dat hierdie situasie só ver hand uitruk. Hulle sal nou bevoegde mense moet aanstel wat weet hoe om hierdie situasie te red, want daar is mens- en dierelewens op die spel,” sluit Pretorius af.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Heilbron” na 45344 (R1) en raak betrokke.

Soortgelyke plasings