|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek Bheki Cele, minister van Polisie, se afdanking geëis ná dit aan die lig gekom het dat ongeveer 5 000 vuurwapens wat aan polisielede uitgereik is, die afgelope vyf jaar verlore gegaan het.

Die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie se verrenoordstreeksuitdunrondte is by Merensky Landbou Akademie in Tzaneen aangebied. Hoërskool Ben Vorster, Hoërskool Pietersburg, Hoërskool Louis Trichardt en Merensky Landbou Akademie het aan dié uitdunrondte deelgeneem en Hoërskool Pietersburg se een span het die senior kategorie gewen terwyl Merensky Landbou Akademie se een span die junior kategorie gewen het.

Die AfriForum-tak in Hartbeespoort het ’n strafregtelike klag teen Sello Maroga, waarnemende munisipale bestuurder van die Madibeng Plaaslike Munisipaliteit, ingedien oor onwettige rioolstorting in die Hartbeespoortdam.

In Standerton het die tak saam met die Lekwa Clean Up Crew gras gesny by die dorpsingang vanaf Bethal en Morgenzon. Hulle het ook met 65 sakke teer slaggate in Beyers Naudéstraat opgevul.

Die Bethal-tak het nog 180 sakke teer gebruik om motoriste se padveiligheid te verbeter. Dié tak het altesaam 400 sakke teer gedurende Julie gebruik.

Die Lichtenburg-tak het voortgegaan met die organisasie se slaggatprojek en het tot op hede altesaam 117 slaggate met 160 sakkies teer opgevul. Die Walker Drive-buurtwag in Gqeberha het ses sakke teer gebruik om twee groot slaggate in Walkerrylaan op te vul.

Die Moreletapark-tak in Pretoria het ’n groentetuin by Kleuterskool Doring en Rosie begin sodat die kleuterskool die groente vir hulle etes kan gebruik. Spinasie, blaarslaai en bruin uie is in vier groot groentebokse geplant.

Die AfriForum Jeug-tak in Piet Retief het in Julie ongeveer 200 komberse ingesamel wat aan verskeie kerke in die area uitgedeel is sodat dit aan behoeftiges geskenk kon word.

Die tak in Upington het vier stoptekens saam met raadslede van die plaaslike munisipaliteit vervang om ongelukke wat daar plaasgevind het in die toekoms te voorkom. Die tak het ook ’n sopkombuis aangebied en warm bakkies sop aan 120 mense te voorsien. Hulle het ook sopbestanddele soos wortels, uie, aartappels en maalvleis aan die Kalksloot Congress Church geskenk wat self ’n sopkombuis vir die gemeenskap gehou het.

AfriForum se Kaapstad-Noord-tak het selfverdedigingsklasse vir die onderwysers van die Herbert Street Special School in Bellville aangebied nadat dié skool deur misdadigers geteiken is en ’n gewapende roof daar plaasgevind het.

AfriForum se Herald-plaaswag in die George-omgewing het ’n simulasie van ’n plaasaanval en gyselaarbevryding aangebied sodat die plaas- en buurtwagte tydens ’n plaasaanval doeltreffend, georganiseerd en gedissiplineerd kan reageer.

Soortgelyke plasings