|

NVG betaal privaatvervolgingseenheid se regskostes ná NVG teenstand van mandamus-aansoek laat vaar

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het ter elfder ure sy opponering van ’n mandamus-aansoek wat deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid gebring is, laat vaar. Hierdie mandamus-aansoek sou die NVG dwing om sy plig na te kom. Dit is insiggewend dat die NVG ook koste aan die eenheid getender het vir sy laaste-minuut-ommekeer. ’n Vervolging vir moord is met byna sewe jaar vertraag weens die NVG se “onredelike en irrasionele” optrede, wat net nóg ’n voorbeeld is van die vervolgingsgesag se ongeërgde minagting van die belange van slagoffers van misdaad.

Die saak hou verband met die beweerde moord op Theresa (Terry) Wampach-Todd deur haar man, Sean Todd. Op 14 Januarie 2016 het die ervare bergfietsryer in die Cederberg na haar dood geval. Volgens Todd het Terry ’n foto probeer neem toe sy gegly en geval het.

Alhoewel die dossier  wesenlike bewyse bevat, wat Todd by die moord op sy vrou betrek, het die NVG die saak in Junie 2017 vir ’n geregtelike doodsondersoek verwys. Die landdros het bevind dat, “the Court is therefore satisfied that Theresa Wampach-Todd’s death, was brought about by an act or an omission perpetrated by Mr. Sean Todd prima facie involving or amounting to an offence.”

Ten spyte van hierdie bevinding het die NVG versuim om te besluit of hulle Todd gaan vervolg, aangesien hy ’n aansoek gebring het om die bevinding van die geregtelike doodsondersoek te hersien. . Adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid, het ’n skrywe aan die NVG gerig waarin dit duidelik gemaak is dat ’n hersiening van hierdie bevinding nie moontik is ingevolge wetgewing nie. Die NVG het nietemin voet by stuk gehou.

Todd se aansoek is in Februarie 2023 van die hand gewys . In Mei vanjaar het Theresa se dogter, Kendal Victor, met behulp van AfriForum se privaatvervolgingseenheid ’n mandamus-aansoek ingedien ten einde die NVG te verplig om nou ’n besluit te neem – die NVG het aangedui dat hy dié aansoek sal teenstaan. Op 21 Julie, ’n week voor die aanvang van die aansoek, het die NVG egter besluit om Todd nie te vervolg nie. Dít het die deur oopgemaak vir ’n private vervolging.

In die aansoek sê Victor die NVG se optrede is, “to say the least, shockingly unreasonable, irrational and grossly negligent. The (NPA’s) conduct, and ineptness solely caused the situation at hand. It would be just and equitable to illustrate the court’s dismay with (NPA) behaviour with a punitive cost order.

“The Director of Public Prosecution’s (DPP) conduct undermines the Constitutional obligation to prosecute without fear, favour or prejudice. This is a situation that should be guarded against by this Honourable Court,” skryf Victor.

Victor sê die NVG se besluit om nie te vervolg nie is met gemengde gevoelens ontvang. “Aan die een kant is dit verskriklik hartseer dat dit die Direkteur van Private Vervolging nagenoeg sewe jaar geneem het om te besluit of hulle gaan vervolg of nie. Mens wonder waarom hulle nie vroeër hierdie besluit gemaak het nie – dit sou ten minste help dat enige kanse wat ons op ’n private vervolging het nie benadeel word nie. Aan die ander kant het ek meer selfvertroue in private vervolging deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid as deur moontlike vervolging deur die staat.”

“Dit breek my hart, my ma was nie net ons ma en die matriarg van ons familie nie, sy was ook ’n geliefde ouma vir vier kleinkinders – sy sal egter vir altyd ’n vreemdeling wees vir twee van hulle. Ons verlies is onmeetbaar  en haar dood is onverklaarbaar en ons wil graag uitsluiting kry ,” sluit Victor af.

Die privaatvervolgingseenheid sal nou aansoek doen om die dossier te ontvang om sodoende die bewyse te evalueer en te besluit of ’n private vervolging ingestel gaan word.

Die aangehegde affidavit bevat ’n gedetailleerde tydlyn van gebeure in aanloop tot die besluit om die hof te nader om die NVG te verplig om sy verantwoordelikhede na te kom.

Soortgelyke plasings