|

AfriVriendelik stel entrepreneurskompetisie in Wes-Kaap bekend

“Bo alles, wees altyd relevant.”

Só meen Daniël Malherbe, medestigter en direkteur van die digitale-agentskap Lumico, wat as hoofspreker opgetree het by die bekendstelling van AfriVriendelik se entrepreneurskompetisie in die Wes-Kaap.

Dié opwindende entrepreneurskompetisie is een van vyf inisiatiewe van AfriVriendelik, ʼn eenstopdiens vir alle entrepreneurs en sakeondernemings. Ander inisiatiewe sluit onder meer ʼn aanlynkletskamer vir AfriForum-lede en entrepreneurs, bemarkingsopleiding asook die jaarlikse Tinteltong Toekennings in.

Voordat hy op 28 sy eie digitale agentskap op die been gebring het, was Malherbe hoof van besigheidsinnovasie vir Media24 se tydskrifte. Hy was later ook digitalehoof van Media24 se weeklikse tydskrifte soos Huisgenoot en Drum.

Hy vertel dat hy eerstehands gesien en ervaar het hoe ondernemings wat nie hul sakemodelle in die digitale-era vinnig aangepas het nie, irrelevant in hul mark geword het. “Tradisionele media, soos ons dit ken, gaan eendag nie meer bestaan nie. Daarom is dit baie belangrik om ʼn goeie digitale strategie te hê.”

Hy sê voorts dat ʼn digitale strategie nie net eenvoudig gaan oor die skep van inhoud vir sosiale media nie. Dit is baie belangriker dat ʼn digitale ekosisteem geskep word wat deurentyd relevante inhoud vir die regte verbruiker gee.

Met kliënte soos AgriSA, BKB en Grain SA het Malherbe ook verwys na die belangrikheid van mondelinge bemarking in besigheid en die rol wat gemeenskappe speel in die sukses van sy ondermening. “Ons besigheid maak 90% van die keer staat op ‘word-of-mouth’ en daarom is dit belangrik dat jou kliënte vertroue in jou het en weet jy lewer puik diens.”

Om gemotiveerde mense met goeie vaardighede aan te stel, speel ook volgens Malherbe ʼn belangrike rol. “My grootste taak is om mense aan te stel wat gemotiveerd is om hard te werk. En dit ontbreek veral by baie jongmense vandag. Daar is baie werksgeleenthede in ons industrie, maar daar is ’n beperkte hoeveelheid mense met die regte vaardighede en genoeg motivering.”

Inskrywings vir die AfriVriendelik entrepreneurskompetisie sluit op 30 September. Groot pryse is op die spel en sluit onder meer ʼn nuwe webwerf geborg deur MyGuru, ʼn advertensie vir gebruik op sosiale mediaplatforms, ʼn Apple Mac skootrekenaar, asook ʼn mentorskapsessie met Meyer le Roux, een van die breine agter die bekende Buffelsfontein Baardolie-handelsmerk, in.

Lede van die publiek kan tussen 2 en 15 Oktober vir hul toptien gunstelingondernemings stem, waarna ʼn uitgesoekte paneel die wenner sal kies wat op 20 Oktober 2017 aangekondig sal word. Vir meer inligting oor die kompetisie besoek www.afrivriendelik.co.za

“Hierdie kompetisie is vir enige entrepreneur wat trots is op sy of haar onderneming en dit verder wil uitbou. Ons wil jong én ervare entrepreneurs aanmoedig om deel te neem aan die verskeie blootstellingsgeleenthede wat die kompetisie bied,” meen Sanderien van der Walt, projekkoördineerder van AfriVriendelik.

Soortgelyke plasings