|

Tshwane-staking: AfriForum eis van SAPD om veiligheid van vullisverwyderaars te verseker

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n brief aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die minister van Polisie sowel as die kommissaris van Polisie gerig om te eis dat dié partye behoorlike beveiliging aan vullisverwyderaars in die Tshwane-metro bied.

Volgens Johan Kruger, strategiese raadgewer by AfriForum, faal die SAPD hopeloos in sy verpligtinge om veiligheid te handhaaf en onwettige stakers aan die pen te laat ry. Kruger voeg by dat die SAPD ingevolge ’n bestaande hofinterdik moet sorg dat veiligheid gehandhaaf word gedurende die voortslepende onwettige staking.

Die SAPD kan duidelik nie die onwettige stakers in toom hou nie. Stakers gaan steeds voort om vullisverwyderingsvragmotors en vullishope aan die brand te steek en onveilige omstandighede vir vullisverwyderaars en by vullisterreine te veroorsaak. AfriForum se hofaansoek eis onder meer dat die SAPD onmiddellik moet ingryp in onwettige stakings en dat nie-stakende werknemers se veiligheid verseker sal word. Stakers moet ook gedwing word om hofbevele te gehoorsaam om sodoende onwettige stakings te vermy en die skade aan privaat en openbare eiendom te verhoed.

Volgens Kruger is die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (SAMWU) se onwettige staking en die vakbond se onvermoë om sy lede se optrede te beheer, die rede vir die grootskaalse skade wat die Tshwane-metro en verskeie privaat instansies die afgelope weke gely het. “SAMWU en sy lede se sabotasie en kriminaliteit hoort op die vullishoop. Die SAPD moet toesien dat hierdie optrede gestaak word deur nou sterk op te tree,” sluit Kruger af. 

Kruger hou vol dat die SAPD nou moet ingryp, gewelddadige individue moet arresteer en moet verseker dat ekstra mannekrag gemobiliseer word in gebiede waar geweld voorkom. Hy sê voorts dat AfriForum se takstrukture sal voortgaan om vullis te verwyder. AfriForum het reeds in die afgelope paar weke, soms onder gewapende begeleiding, vullis in verskeie woonbuurte in die stad verwyder. AfriForum eis laastens dat daar ’n plan opgestel moet word om werknemers en die publiek se veiligheid by potensiële geweldspunte te verseker.

Soortgelyke plasings