|

Frankfort-tak bring spoedhobbels aan om padveiligheid te bevorder

AfriForum se Frankfort-tak het in November spoedhobbels en duidelike kennisgewingsborde daarvan in JJ Hadebestraat in die middedorp van dié Vrystaatse dorp aangebring om padveiligheid hier te bevorder. Dié aksie volg nadat AfriForum talle klagtes van besorgde inwoners ontvang het rakende motoriste se verontagsaming van ’n stopteken by ’n besige kruising. Bestuurders se roekeloosheid het reeds verskeie motorongelukke tot gevolg gehad, waarna AfriForum ’n gemeenskapspetisie van stapel gestuur het om steun vir die aanbring van spoedhobbels te kry.

AfriForum het hom eers tot die Mafube Plaaslike Munisipaliteit gewend en in ’n skrywe, vergesel deur die getekende gemeenskapspetisie, daarop aangedring dat die munisipaliteit spoedhobbels in die belang van padveiligheid in JJ Hadebestraat aanbring. Die munisipaliteit se dawerende stilte in reaksie op dié versoek en petisie het AfriForum se Frankfort-tak genoop om self in te spring en die spoedhobbels aan te bring.

Volgens Christa Ikking, AfriForum se streekskoördineerder vir die Hoogland-streek, spreek die munisipaliteit se onbetrokkenheid by hierdie projek boekdele. “Ons kan sien dat die munisipaliteit nie omgee oor die gemeenskap se veiligheid nie en glad nie gehoor gee aan die belange van die gemeenskap nie. Die munisipaliteit werk ook nie saam met die gemeenskap om die toestand van die dorp te verbeter of om padveiligheid hier te bevorder nie,” benadruk sy.

AfriForum beoog om volgende jaar nog spoedhobbels by verskeie gevaarlike punte aan te bring en sodoende padveiligheid in dié dorp verder te bevorder. “AfriForum sal aanhou om self sulke aksies aan te pak aangesien ons duidelik kan sien dat die munisipaliteit nie daarin belangstel om ons dorp weer skoon en veilig te maak nie,” sê Johan Ungerer, voorsitter van AfriForum se Frankfort-tak.

Soortgelyke plasings