|

Helderbergkom-tak wys hulle gee om in November

Die AfriForum-tak in Helderbergkom hoef nie te wag vir Kersfees om te gee nie, hulle het reeds in November gewys hulle gee graag. Dié tak het in November bome geskenk en ook gesorg dat verskeie ander instansies iets in die koskas het vir hulle inwoners.

Altesaam agt bome is in die omgewing van Gordonsbaai geplant, onder meer by Covenant ECD – ’n kleuterskool in dié area. Die bome wat geplant is, is onder meer: witolienhout (Buddleja saligna), geelhout (Podocarpus latifolius), assegaaiboom (Curtisa dentata), waterboom (Ilex mitis), wildekanferbos (Tarchonanthus camphoratus) en waterpeerboom (Syzygium guineense). 

Verder het die tak ook onder meer brood, botter, konfyt en ander benodighede aan Helpende Hand se Ons Plek en Sen-Cit Resthaven-tehuis geskenk.

Ben Cronje, voorsitter van AfriForum se Helderbergkom-tak het sy dank uitgespreek aan die Mountain View Spar in Gordonsbaai wat gehelp het om die skenking aan Ons Plek en Sen-Cit moontlik te maak.

Volgens Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, is die nuwe bestuur van dié tak gretig om die gemeenskap se probleme die stryd aan te sê en daadwerklik ’n verskil te maak. “Hierdie tak maak reeds ’n positiewe verskil in die gemeenskap, maar dit is maar net ’n druppel in die emmer in vergelyking met wat die tak vir 2024 beplan.”

Die tak nooi die gemeenskap uit om deel te word van hulle bedrywighede by www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings