|

GOP: Dienslewering ontbreek, nou ly Belfast, Dullstroom en Machadodorp daaronder

Die gebrek aan dienslewering en voldoende instandhouding van infrastruktuur veroorsaak dat die inwoners van Belfast, Dullstroom en Machadodorp daagliks deur pikdonker strate moet ry, wat boonop met slaggate deurtrek is, gedurig sonder water sit en boonop met rou riool in die strate van woonbuurte moet saamleef. Dit is sommige van die uitdagings wat die AfriForum-takke in hierdie dorpe in hulle voorstelle op die Emakhazeni Plaaslike Munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) uitgelig het.

Die ouditeur-generaal het vir die vierde agtereenvolgende jaar daarop gewys dat dié munisipaliteit se finansiële state wesenlik wanvoorgestel is en dus nie die munisipaliteit se finansiële posisie akkuraat voorstel nie. Dit beteken dat daar beduidende probleme is met die bestuur van geld by dié munisipaliteit. Dit word veral gesien in die feit dat die munisipaliteit in die afgelope jaar skaars enige geld aan die herstel van infrastruktuur en basiese dienste in Belfast bestee het. Dit terwyl rou riool die vleilande en woonbuurte in Belfast en Machadodorp besoedel. AfriForum se voorstelle op die GOP fokus veral op die noodsaaklikheid daarvan om die dorpe se rioolwerke en pompstasies op te gradeer of minstens gereeld in stand te hou. 

Slaggate in Belfast en Machadodorp is nog ’n groot bekommernis vir inwoners. Hierdie slaggate maak nie net die paaie onbruikbaar nie, maar verhoog ook die risiko van motorongelukke. AfriForum het voorgestel dat die munisipaliteit ’n omvattende plan in werking stel om die paaie te herstel en in stand te hou, om sodoende die veiligheid en mobiliteit van inwoners te verbeter.

Benewens hierdie kwessies, het AfriForum die belangrikheid van betroubare watervoorsiening beklemtoon. Inwoners moet dikwels vir lang tye sonder water klaarkom, wat groot ontwrigting veroorsaak. AfriForum dring daarop aan dat die munisipaliteit dringend stappe neem om die waterinfrastruktuur te verbeter en te verseker dat alle inwoners gereeld toegang tot skoon water het.

Die munisipaliteit moet ook vir die volgende tekortkominge in Belfast, Machadodorp en Dullstroom begroot:

  • Instandhouding van parke en openbare ruimtes;
  • verbetering van vullisverwyderingsdienste;
  • herstel en instandhouding van die plaaslike vullisterreine;
  • herstel van straatligte en;
  • opgradering van wateraanlegte.

AfriForum het ook ’n beroep op die munisipaliteit gedoen om kwartaallikse vergaderings met die tak te hou om die vordering in verband met hierdie kwessies te bespreek en deurlopend terugvoer te gee.

Die GOP bied die gemeenskap en AfriForum-takke die geleentheid om hul bekommernisse en voorstelle rakende die munisipaliteit se beplande begroting te deel. Dit stel die gemeenskap in staat om hul stemme te laat hoor en die munisipaliteit die kans om huidige probleme te identifiseer en aan te spreek.

“Deur hierdie voorstelle te implementeer, hoop AfriForum dat Belfast, Dullstroom en Machadodorp ’n beter en meer volhoubare omgewing vir al sy inwoners sal word. AfriForum sal aanhou om druk op die munisipaliteit te plaas om te verseker dat hy sy grondwetlike pligte nakom en behoorlike dienslewering aan Belfast se inwoners bied,” sê Arlo Van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

Soortgelyke plasings