|

Groter samewerking tussen kultuurgemeenskappe beteken minder mag vir ANC-regering

’n Erkennings- en samewerkingsverdrag is vandag by Thaba ’Nchu tussen AfriForum en die Barolong Boo Seleka tradisionele gemeenskap onderteken. Dit het ten doel om ’n blywende verhouding te vestig en te handhaaf met die oog daarop om ewigdurende vrede en vriendskap tussen die Barolong Boo Seleka- en die Afrikaner-kultuurgemeenskappe te verseker asook om hul ekonomiese, maatskaplike en kulturele ontwikkeling te bevorder.

Vandag is ’n historiese gebeurtenis wat dui op die herlewing van die historiese bande tussen die Barolong Boo Seleka en Afrikaners. Goeie betrekkinge tussen dié kultuurgemeenskappe het in die 1830’s begin en is deur die negentiende eeu gehandhaaf.

AfriForum en die Solidariteit Beweging se uitgangspunt is dat gemeenskapsfederalisme die oplossing vir die toekoms is aangesien die ANC-regering se sentralistiese benadering op vele terreine misluk het. Daarvoor is goeie interkulturele verhoudings en samewerking tussen gemeenskappe nodig.

Barend Uys, hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, sê dit is ’n voorreg om met die Barolong Boo Seleka saam te werk. “Dit is ook ’n voorreg om deel van ’n geslag te wees wat kies om te leer uit die ervarings van ons voorouers. Ons kies om te bou op beproefde waardes en ’n toekoms te skep waar gemeenskappe vreedsaam met mekaar kan saamleef.”

Barend Uys, hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is ’n netwerk van kultuurgemeenskappe, gebou op wedersydse erkenning en respek, nodig vir gemeenskappe om saam te werk om ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms te verseker. “Daar is tans ’n poging om AfriForum en Afrikaners te isoleer en hulle as die sondebokke voor te hou wat vir al die probleme in die land verantwoordelik is. Ons moet by ons voorgeslagte leer hoe hulle met ander gemeenskappe saamgewerk het en die woorde van pres. Paul Kruger onthou en dit wat goed is uit die verlede neem en daarop voortbou.

“Ons voorouers, spesifiek Hendrik Potgieter, het goed met koning Moroka saamgewerk en daar is ’n hele geskiedenis van verdrae wat tussen hulle gesluit is. Ons moet daarop voortbou, want as ons ’n toekoms vir ons kinders wil skep hoef ons nie as gemeenskap te ontbind nie. Ons kan trots wees om Afrikaners te wees en met selfvertroue veg vir die behoud van ons taal en kultuurregte. Ons moet onthou ons leef nie in isolasie nie en moet verhoudinge met ander gemeenskappe bou.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê Suid-Afrika beleef ’n groeiende krisis en dit is nie net weens swak regering nie, maar ook ’n onwerkbare bedeling. “Suid-Afrika is groter as agt Europese lande saam en niemand sal droom om die lande sentraal te bestuur soos in Suid-Afrika nie. Dit werk eenvoudig nie. Die oplossing is federalisme. Die grondslag daarvoor is reeds gelê met gemeenskappe wat weens die verval van die staat toenemend hul eie magte opneem.

Ons kan nie wag vir die regering om reg te kom nie.

“Daarom moet selfstandighede instellings gevestig word en kultuurgroepe organiseer. Dit is die beste kans teen ’n regering wat op grond van demografie aan die mag probeer vasklou en outoritêr regeer. Met elke ooreenkoms wat onderteken word, is ons ’n stap nader aan groter samewerking tussen gemeenskappe en ’n stap nader aan minder mag vir die ANC.”

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging en Kgosi Gabo Moroka van die Seleka Barolong

Kgosi Gabo Moroka van die Seleka Barolong sê hul voorouers, Kgosi Moroka II en Kgosi Tshipinare Moroka, het die voorbeeld gestel deur goeie verhoudinge met ander kultuurgemeenskappe te vestig en regering deurlopend te verbeter. “Dit is vir ons ’n eer om in hul voetspore te volg en hul nagedagtenis te eer deur die goeie verhoudinge met die Afrikaner-kultuurgemeenskap te laat herleef met die ondertekening van dié verdrag. Ons moet ons kultuurgemeenskap lei in ’n hervormingsproses wat ’n voorspoedige toekoms en die bewaring van ons kulturele identiteit sal verseker – vennootskappe en samewerking het ’n sleutelrol om te speel om die visie te verwesenlik.”

Die samewerkingsverdrag behels:

•        samewerking op die gebied van landbou-ontwikkeling

•        die bevordering van interkulturele versoening en dialoog

•        die bevordering van gemeenskapselfstandigheid en selfbestuur

•        bevordering van gemeenskapsveiligheid

•        die bewaring en beskerming van kulturele identiteit en erfenis

•        die bevordering van moedertaalonderrig

•        die beskerming van eiendomsreg

Die formalisering van betrekkinge tussen AfriForum en die Seleka Barolong volg nadat betrekkinge tussen die kultuurgemeenskappe oor die afgelope twee en ’n half jaar herstel is deur AfriForum se steun aan die koninklike familie in hul regstryd om herstel en erkenning, en die vestiging van ’n gesamentlike landbou-ontwikkelingsloodsprojek met die steun van AfriForum en ander netwerkvennote.

Hooffoto: Barend Uys, Kallie Kriel, Flip Buys, Kgosi Gaboilelwe Moroka, Kgosana Maleho Goronyane en Kgosana Mapogo Moroka.

Soortgelyke plasings