|

AfriForum en Barolong Boo Seleka onderteken erkenning- en samewerkingsverdrag

AfriForum en die Barolong Boo Seleka- tradisionele gemeenskap het vandag die historiese bande tussen die Barolong Boo Seleka- en Afrikaner-kultuurgemeenskappe laat herleef deur die ondertekening van ’n wedersydse erkenning- en samewerkingsverdrag in die hoofstad van die Barolong Boo Seleka, Thaba ’Nchu, oos van Bloemfontein in die Vrystaat.

Dié formalisering van betrekkinge tussen AfriForum en die Barolong Boo Seleka volg nadat betrekkinge tussen die kultuurgemeenskappe oor die afgelope twee en ’n half jaar herstel is deur AfriForum se steun aan die koninklike familie in hul regstryd om herstel en erkenning en die vestiging van ’n gesamentlike landbou-ontwikkelingsloodsprojek met die steun van AfriForum en ander netwerkvennote.

“Ons voorouers, Kgosi Moroka II en Kgosi Tshipinare Moroka het die voorbeeld gestel deur goeie verhoudinge met ander kultuurgemeenskappe te vestig en regering deurlopend te verbeter. Dit is vir ons ’n voorreg om in hul voetspore te volg en hul nagedagtenis te eer deur goeie verhoudinge met die Afrikaner-kultuurgemeenskap te laat herleef met die ondertekening van dié verdrag. Ons moet ons kultuurgemeenskap in ’n hervormingsproses lei wat ’n voorspoedige toekoms en die bewaring van ons kulturele identiteit sal verseker – vennootskappe en samewerking speel ’n sleutelrol om die visie te verwesenlik,” sê Kgosi Gabo Moroka van die Seleka Barolong.

“Suid-Afrika as sentralistiese bestel is op vele terreine ’n mislukking – die enigste oplossing lê in gemeenskapsfederalisme. Daarom is ons besig om ’n netwerk van kultuurgemeenskappe te bou wat in wedersydse erkenning en respek met mekaar saamwerk om ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir die kinders van ons onderskeie kultuurgemeenskappe te verseker. Dit is vir ons ’n voorreg om met Kgosi Gabo Moroka en die Barolong Boo Seleka-kultuurgemeenskap saam te werk,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Die doel van die ooreenkoms is om ’n blywende verhouding te vestig en te handhaaf met die oog daarop om ewigdurende vrede en vriendskap tussen die Barolong Boo Seleka- en die Afrikaner-kultuurgemeenskappe te verseker en om hul ekonomiese, maatskaplike en kulturele ontwikkeling te bevorder. Dit kan die volgende insluit:

  • samewerking op die gebied van landbou-ontwikkeling
  • die bevordering van interkulturele versoening en dialoog
  • die bevordering van gemeenskapselfstandigheid en selfbestuur
  • bevordering van gemeenskapsveiligheid
  • die bewaring en beskerming van kulturele identiteit en erfenis
  • die bevordering van moedertaalonderrig
  • die beskerming van eiendomsreg

Die ooreenkoms is op die volgende beginsels gebaseer:

  • wedersydse erkenning en respek
  • vreedsame naasbestaan
  • aanvaarding van mekaar se identiteit, permanentheid en bestaan as outonome kultuurgemeenskappe
  • die prerogatief van kultuurgemeenskappe om hul eie sake te bestuur en hul eie instellings te vestig en sonder inmenging van die staat of enige ander entiteit in stand te hou
  • respek vir die diversiteit van regeringsinstellings, gewoontes en gebruike, insluitend dié wat op grondgebruik en grondeienaarskap betrekking het
  • vryheid van godsdiens en godsdienstige en kulturele gebruike

“Ons is die skakel tussen die geslagte wat ons voorafgegaan het en die geslagte wat ná ons sal kom – elke geslag het hul eie taak en moet hul eie keuses maak. Dit is ’n voorreg om deel van ’n geslag te wees wat kies om uit die ervarings van ons voorouers te leer, wat kies om te bou op beproefde waardes en ’n toekoms te skep waar kultuurgemeenskappe in vreedsame naasbestaan leef en saamwerk waar ons belange deel. Ons streef daarna om die lede van ons kultuurgemeenskappe met hoop vir die toekoms te begeester sodat hulle kan kies om hul roeping uit te leef en vry aan die suidpunt van Afrika te lewe,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

Goeie betrekkinge tussen die Afrikaner- en Barolong Boo Seleka-kultuurgemeenskappe het in die 1830’s begin en is deur die negentiende eeu gehandhaaf. ’n Kantelpunt in die verhouding was toe Kgosi Moroka II die Voortrekkers ná die Slag van Vegkop in 1836 te hulp gesnel het deur broodnodige trekosse aan hulle te stuur toe hulle in groot nood verkeer het en op die slagveld gestrand was nadat al hul vee weggevoer is. Daar was ook goeie verhoudinge en samewerking tussen die Barolong Boo Seleka Koninkryk en die Republiek van die Oranje-Vrystaat tydens die onstuimige tweede helfte van die 1800’s.

Soortgelyke plasings