|

AfriForum ondersteun familie van Brand-gesin tydens hofsaak

AfriForum se traumaeenheid het die afgelope week ondersteuning gebied aan die familie van Dan, Breggie en Elzabie Brand tydens die verhoor wat hierdie week in Kimberley begin het. Die Brand-gesin is in 2020 tydens ’n gruwelike plaasaanval in Hartswater vermoor.

Die Brand-gesin se liggame is in die omgewing van Taung in die Noordwes gevind nadat die susters, Heidie Taljaard en Trudie de Beer, nie met hul ouers kon kontak maak nie en hulle vriende in die omgewing gekontak het om hul ouers en suster op te spoor.

Die beskuldigdes, Donald Seoleseng (21), Tshepo Visagie (36), Kgomotso Mpulwana (43) en Tsepoane Melato (20) word aangekla van drie aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, drie aanklagte van ontvoering en drie aanklagte van regsverydeling. Seoleseng word ook van ontsnapping aangekla.

Taljaard, De Beer en haar man, Wikus, het onderskeidelik vanaf Potchefstroom in Noordwes en Brackenfell in die Wes-Kaap gery om die verhoor by te woon.

Johan Kloppers, berader by AfriForum se traumaeenheid, het beide susters vooraf besoek om hulle voor te berei vir die hofsaak en ook emosionele ondersteuning gebied in die aanloop tot die verhoor. Kloppers het ook vandeesweek die verhoor bygewoon om die familie by te staan.

“Wanneer iemand rou oor die verlies van ’n geliefde is daar seer wat niemand anders sien nie en niemand kan jou voorberei op wat jy moet verwag, voel of dink nie,” sê Kloppers. “Hierdie saak is een van die menigte sake waarby AfriForum se traumaeenheid betrokke is. Ons harte gaan uit aan elke slagoffer van plaasaanvalle en -moorde en ons probeer om ’n pad te stap saam met elke slagoffer en familielid met wie ons paaie kruis.”

Soortgelyke plasings