|

Heilbron-tak werf AfriForum-lede met gholfdag

Die AfriForum-tak in Heilbron het op 22 Oktober ’n gholfdag aangebied om die gemeenskap aan dié burgerregteorganisasie bekend te stel en ook om lede te werf.

Altesaam 45 spelers het aan die gholfdag deelgeneem. Die wins wat op die dag gemaak is, sal aangewend word by die plaaslike kinderhuis en die tehuis vir bejaardes.

Intussen is ’n spitbraai voorberei vir die aand se afsluiting. Die prysuitdeling is deur Gerrie Muller, die president van die gholfklub en voorsitter van die Heilbron-tak, waargeneem. Simon Malgas en Zacharia Mholo is as die wenners van die gholfdag aangewys. Elke speler het egter ‘n prys ontvang waarvoor die AfriForum-tak die borge hartlik bedank.

“Ten spyte van die reën, was ons eerste gholfdag ’n reusesukses. Dankie vir elkeen se bydrae tot hierdie inisiatief, veral die borge,” sê Muller.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, was dit heerlik om die dag by te woon. Daar is inligting oor AfriForum aan die spelers gegee en daar het ook nuwe lede aangesluit. “Ek glo dat hierdie ‘n jaarlikse instelling sal word,” sluit Pretorius af.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Heilbron” na 45344 (R1) om aan te sluit.

Soortgelyke plasings