Sukses: E-tol bereik einde van die pad

Die burgerregteorganisasie AfriForum se 10-jaar stryd om van e-tol ontslae te raak het vrugte afgewerp. Dit volg nadat dit aangekondig is dat die staat die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (SANRAL) se e-tol skuld van R23,7 miljard gaan oorneem. Alhoewel e-tol nie amptelik geskrap is nie, beteken die feit dat die staat e-tol se skuld oorneem vir alle praktiese doeleindes die einde van dié stelsel.

AfriForum het R100 000 geskenk aan ’n hofsaak om e-tol as onwettig te laat verklaar wat tot ’n aanvanklike interdik teen die implementering van hierdie stelsel gelei het. Nadat die Konstitusionele Hof die interdik opgehef het, het AfriForum sy lede aangemoedig om nié vir e-tol te registreer nie. AfriForum het ook nie sy eie voertuie vir e-tol geregistreer nie. Dit blyk nou of die volgehoue protes van die publiek genoeg druk op die stelsel geplaas het om ’n einde aan e-tol te maak.

“AfriForum verwelkom die feit dat e-tol die einde van die pad bereik het. Ons bedank alle lede van die publiek en organisasies wat in die stryd daarteen gehelp het. Dit wys nogmaals die krag van die burgerlike samelewing,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Soortgelyke plasings