|

BELA gaan regte ontneem, gemeenskappe vervreem, sê AfriForum

AfriForum het in reaksie op James Ndlebe, hoofdirekteur van beplanning van die Departement van Basiese Onderwys, se voorlegging vanoggend aan die Gekose Komitee oor Onderwys en Tegnologie, Sport, Kuns en Kultuur gereageer deur te wys daarop dat die sogenaamde BELA-wetsontwerp nie beter onderwys en verhoudinge teweeg gaan bring nie, maar gehalte onderrig kan kelder en gemeenskappe in die land juis van mekaar vervreem. Ndlebe het naamlik beweer dat die wetsontwerp noodsaaklik vir “transformasie” in die onderwyssektor is.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dit duidelik dat die omstrede dele van die wetsontwerp wat met die finale besluitnemingsmagte oor skole se toelatings- en taalbeleide te make het, geskep is om Afrikaanse skole te verengels en die departement se mislukking om voldoende skole te bou en onderrig in meer moedertale uit te brei, te probeer wegsteek.

“Die departement hou vol om enkeltalige Afrikaanse moedertaalskole as boos uit te beeld. Deesdae word dit minder reguit gesê, maar Afrikaanssprekendes weet dat dit veral Afrikaanse skole is wat in die verlede al van uitsluiting beskuldig is en waar personeel en beheerliggame steeds aanhoudend onder druk verkeer om Engelse onderrig aan te bied,” sê Bailey.

Sy voeg by dat die reg tot moedertaalonderrig internasionaal as ’n basiese mensereg erken word en dat die verduideliking van Ndlebe op die vooraand van Menseregtedag daarom des te meer ironies is.

“Die BELA-wetsontwerp gaan dit vir die departement moontlik maak om skole voller te maak en die bestaande moedertaalonderrig in enige taal buiten Engels te vernietig met die drogredenasie dat kinders nie uitgesluit gaan word nie. In wese sluit Engelstalige onderrig 90% van die land se kinders uit omdat Engels nie hulle moedertaal is nie.”

“Onderwys in die land is gemiddeld reeds van die swakste in die wêreld en gaan met voller klasse en tweede taal onderrig net verder agteruitgaan. Bowendien veroorsaak die miskenning van gemeenskappe se taalregte tot maatskaplike onrus en selfs geweld. Dit blaas spanning tussen gemeenskappe aan en lei tot kulturele onverdraagsaamheid. Dit maak van die BELA-wetsontwerp ’n uiters gevaarlike en verwerplike wetsontwerpe wat die toekoms van almal in die land direk gaan raak,” sluit sy af. 

Soortgelyke plasings