|

Spar-grootkoppe na bewering betrokke by bedrieglike oorname van winkels

In ’n skokkende voorval van korporatiewe bedrog word drie van die Spar-groep se senior bestuurders beskuldig van ernstige bedrog weens wanvoorstellings en die versuim om te openbaar in twee van die land se hooggeregshowe. AfriForum se Privaatvervolgingseenheid het Chris en Harry Giannacopoulos en hul familie se groepmaatskappye (Giannacopoulos-group) gehelp om kriminele klagtes van bedrog en meineed teen dié bestuurders in Gauteng in te dien. Verdere klagtes sal binnekort in KwaZulu-Natal ingedien word.

Daar word beweer dat die Spar-groep deur sy bestuurders in 2019 valslik in beëdigde verklarings aangedui het dat maatskappye in die Giannacopoulos-groep hulle geld skuld ten einde die howe te oortuig om die Spar-groep beheer te gee oor die supermarkte wat deur die Giannacopoulos-maatskappye besit word. Hierdie beweerde wanvoorstellings is deur dieselfde hooggeregshowe bevestig toe die Giannacopoulos-groep die onregmatige oorname suksesvol betwis het.

Twee van die geïmpliseerde partye wat in 2019 beëdigde verklarings in die regsake ingedien het, is Spar se besturende direkteur, Desmond Borrageiro, en die uitvoerende hoof, Brett Botten. Die voorsitter van die Spar Groep, Graham O’Conner, het dokumente onderteken ter ondersteuning van die dagvaardings. Die beweerde wanvoorstellings – toegeskryf aan onkunde deur hul regspan – is deur sommige van die verdagtes erken en beskryf as ‘n “eerlike en ongelukkige fout”.

Meer bestuurders sal betrek word wanneer nog ‘n saak in KwaZulu-Natal aanhangig gemaak word.

In die hofaansoeke wat in 2019 in Pretoria en Pietermaritzburg ingedien is, het die Giannacopoulos-groep beweer dat die Spar-groep:

  • Versuim het om aan die hof bekend te maak dat die Giannacopoulos-groep se kleinhandelaarlidmaatskap beëindig is sonder dat ’n verhoor, soos deur die Spar-groep beloof, plaasgevind het.
  • Valse verklarings oor ontwikkelingslenings gemaak het, wat aandui dat die Giannacopoulos-groep van maatskappye in die skuld was by die Spar-groep.

Hierdie beweerde wanvoorstellings is herhaal in verskeie dagvaardings wat teen maatskappye in die Giannacopoulos-groep uitgereik is.

In ooreenstemming met hofbevele en op grond van die beweerde wanvoorstellings, het die Spar-groep in 2019 onmiddellik stappe gedoen om die winkels oor te neem. Eers ná ’n suksesvolle dringende hofaansoek deur die Giannacopoulos-groep is die besighede weer onder hul beheer geplaas.

Hierdie feite vorm die grondslag vir die strafregtelike klagtes wat vandag (8 Desember 2022) by die polisie in Pretoria ingedien is en wat in die komende weke in Pietermaritzburg ingedien sal word.

Giannacopoulos sê sedert die mislukte hofaanbod deur die Spar-groep het die verhouding tussen die Giannacopoulos-groep en die Spar-groep verder versuur. “Die Spar-gilde en -groep het ‘n veldtog van onderdrukking teen die Giannacopoulos-groep gevoer in ‘n poging om hulle uit die Spar-handelstelsel te verdryf en hul winkels oor te neem. Dit het verskeie verdere hofsake tussen die partye tot gevolg gehad. Sommige van hierdie hofsake duur steeds voort.”

Giannacopoulos het oor die impak van hierdie uitgerekte verhouding gesê: “Ons verwag van die polisie en Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) om hul plig te doen, maar waardeer die ondersteuning van AfriForum se Privaatvervolgingseenheid om die proses te monitor en te verseker dat geregtigheid geskied. Ons sal egter nie skroom om privaat vervolging te volg as die NVG weier om te vervolg nie.

“Die voortgesette veldtog deur die Spar-groep teen ons maatskappy het ons winkels se reputasie skade berokken, maar veel erger, het dit ’n impak gehad op die personeel wat ons in diens het wat uit hul pad gaan om ons lojale klante te bedien,” sê Giannacopoulos.

Die hoof van die Privaatvervolgingseenheid, adv. Gerrie Nel, het gesê: “Ons is deur die Giannacopoulos-groep genader vanweë die vaardighede en kundigheid wat ons bied, om dit wat as korporatiewe afknouery beskou kan word, te hanteer. Die impak van die beweerde vals verklarings en wanvoorstellings in hofstukke is onmeetbaar, nie net finansieel nie, maar ook emosioneel. Ons instruksie is om die saak te monitor en om privaat vervolging te oorweeg sou die NVG versuim om te vervolg,” het Nel gesê.

AGTERGROND

Die Giannacopoulos-groep besit ‘n groep van 13 maatskappye wat 45 Spar-supermarkte en Tops-drankwinkels in drie provinsies bedryf.

Die Spar-groep sal van tyd tot tyd geld leen aan onder meer die Giannacopoulos-groep vir die verkryging van nuwe winkels, of vir opknappings en verbouings.

Gedurende 2015 en 2016 het verskeie maatskappye binne die Giannacopoulos-groep ontwikkelingslenings ten bedrae van meer as R100 miljoen by die Spar-groep uitgeneem. Die Spar-groep verkry sekuriteit van sy kleinhandelaars vir lenings aan daardie kleinhandelaars in die vorm van notariële verbande, wat die Spar-groep oor die kleinhandelaars se Spar- en Tops-winkels by die aktekantoor registreer. Die Spar-groep het dan die reg om beheer oor ‘n kleinhandelaar se winkel te neem indien die kleinhandelaar versuim om ‘n paaiement te betaal of enige ander kredietverpligting na te kom.

Nadat die leningsooreenkomste onderteken is, het die Spar-groep na bewering die lenings aan die Giannacopoulos-groep aan Wesbank gesedeer. Nóg die Spar-groep nóg Wesbank het egter die Giannacopoulos-groep van hierdie ontwikkeling ingelig, terwyl die Spar-groep voorgehou het dat die lenings in werklikheid aan hulle verskuldig is.

Tydens ’n dispuut in 2019 tussen die Giannacopoulos-groep en die Spar-groep en -gilde, het laasgenoemde entiteit na bewering ‘n geheime vergadering gehou waartydens besluit is dat al 45 winkels van die Giannacopoulos-groep se lidmaatskap beëindig sal word. Die Giannacopoulos-groep was nie teenwoordig nie en hulle is ook nie ‘n geleentheid gegun om hul saak te stel nie.

In Oktober 2019 het die Spar-groep ’n hofbevel – op ’n ex parte-basis – verkry om sy regte ingevolge die notariële verbande oor winkels wat deur die Giannacopoulos-groep besit word, uit te oefen. Dit is gedoen ten spyte daarvan dat die Giannacopoulos-groep na bewering geen geld aan die Spar-groep verskuldig was nie.

Toe die Spar-groep in Oktober 2019 hul aansoek by die hof ingedien het, het hulle na bewering bewustelik die wanvoorstelling gemaak dat die Giannacopoulos-groep die Spar-groep geld vir lenings skuld. Volgens die klaers het die Spar-groep geweet dat die Giannacopoulos-groep nie geld aan hulle verskuldig is nie omdat die lenings deur die Spar-groep aan Wesbank gesedeer is.

Die Spar-groep het beheer oor die winkels van die Giannacopoulos-groep oorgeneem. Beheer is dae later teruggegee toe die Giannacopoulos-groep ’n suksesvolle dringende aansoek ingedien het.

Die Spar-groep het in Januarie 2020 verskeie dagvaardings teen maatskappye in die Giannacopoulos-groep uitgereik, waarin die Spar-groep na bewering valslik betaling vir uitstaande lenings geëis het, ten spyte daarvan dat sulke lenings aan Wesbank gesedeer is.

Op 17 Julie 2020 het die Giannacopoulos-groep die Spar-gilde se beëindiging van hul kleinhandelaarlidmaatskap suksesvol betwis. Dié uitspraak is in Julie 2022 deur ’n volbank van dieselfde hof bekragtig.

Die Spar-groep het in April 2021 onder eed in ander regsgedinge erken dat die lenings nie aan hulle verskuldig is nie, maar wel aan Wesbank.

Giannacopoulos sê in die beëdigde verklaring in die huidige strafregtelike klag: “Die aansoeke was gebaseer op wesenlike wanvoorstellings, nie-openbaarmakings en valse eise vervat in die beëdigde verklarings wat deur Spar-groep ter ondersteuning van hul aansoeke ingedien is … twee dae nadat die perfekteringsaansoeke toegestaan is, het die Giannacopoulos-groep dringend aansoek gedoen by die hooggeregshowe in Pretoria en Pietermaritzburg om die perfekteringsbevele tersyde te stel.”

Die hooggeregshof in Pretoria het ingestem dat die beëdigde verklarings waarop die Spar-groep gesteun het wesenlike wanvoorstellings en nie-openbaarmakings bevat het. Dié hof het dus die Spar-groep se aansoek op 18 Oktober 2019 met bestraffende koste van die hand gewys en onmiddellik besit van die winkels teruggegee aan die Giannacopulos-groep.

“Hierdie voorneme om van die Giannacopoulos-groep ontslae te raak, is wat die Spar-groep gemotiveer het om valse vertoë oor die ontwikkelingslenings te maak in die hooggeregshof in Pretoria en ook in die agt dagvaardings wat in die hooggeregshof in Durban uitgereik is,” het Giannacopoulos gesê.

TYDLYN

19 September – O’Conner dui aan die Spar-groep sal ’n verhoor hou om te bepaal of die Giannocopoulos-groep van die kleinhandelaarsnetwerk verwyder moet word.

20 September – Fluxmans-prokureurs, wat vir die Giannacopoulos-groep optree, vra op watter datum die verhoor aangehoor sal word. Geen reaksie.

15 Oktober – Die Spar-groep word weer gevra wanneer die verhoor gehou sal word. Op dieselfde dag hou die Spar-groep ’n geheime vergadering waar besluit word dat die Giannacopoulos-groep se gilde-lidmaatskap beëindig word.

16 Oktober – Die Spar-groep nader die hooggeregshof op ’n ex parte -basis om beheer oor die Giannacopoulos-groep se winkels oor te neem. Ure later voer die Spar-groep die opdrag uit en begin beheer oor Giannacopoulos-winkels oorneem.

 18 Oktober – Die Giannacopoulos-groep nader die hof op ’n dringende basis en stel die Spar-groep se ex parte -aansoek tersyde.

Soortgelyke plasings