|

Herdenk die vredesluiting van 1902 saam

Op 31 Mei 1902 het verteenwoordigers van die Boererepublieke en die Britse Ryk ’n vredesverdrag onderteken wat ’n einde aan die Anglo-Boereoorlog gemaak het ‒ die oorlog wat beskryf word as die bloedigste ooit op die Suider-Afrikaanse bodem.

Hierdie ooreenkoms, bekend as die Vredesverdrag van Vereeniging, is in Pretoria in Melrosehuis onderteken, maar die gesprekke tussen die aanvoerders van die Boeremagte wat tot die amptelike aanvaarding van die verdrag gelei het, het reeds van die middel van Mei 1902 af in ’n tentdorp naby die Vaalrivier plaasgevind.

Aanvanklik was die Boereleiers in twee kampe verdeel, met president M.T. Steyn, generaal C.R. de Wet, nog ander Vrystaters, asook Transvalers soos generaals J.C.G. Kemp en J.F. Naudé wat gepleit het dat die stryd vir die vryheid van die Boererepublieke ten alle koste voortgesit moet word. Aan die ander kant het generaals S.W. Burger, Louis Botha, L.J. Meyer en J.C. Krogh gevoel dat dit tyd was om die oorlog te beëindig, al sou dit ten koste van die Boere se vryheid geskied.

Oplaas het die wens van diegene wat vrede begeer het, die swaarste geweeg.

Dit was vir baie ’n bitter pil om te sluk, maar dit was duidelik dat die Boere nie meer veel langer staande teen die Britse leër sou kon bly nie. Die ontberinge van die vroue, kinders en bejaardes in die konsentrasiekampe het ook swaar op die manne se gemoedere gedruk, al het vele vroue die boodskap gestuur dat hulle moes aanhou veg.

In sy boek, De strid tusschen Boer en Brit, wat in reeds later in 1902 verskyn het, vertel generaal De Wet hoe die verteenwoordigers op Saterdag 31 Mei 1902 vir oulaas byeengekom het voordat diegene wat die verdrag sou onderteken, na Pretoria vertrek het. Die gemoedere was somber. Generaal Burger, wat in daardie stadium die waarnemende president van die Zuid-Afrikaansche Republiek was, het die volgende roerende toespraak gemaak (vry vertaal):

Ons staan hier by die graf van die twee republieke. Daar bly veel vir ons oor om te doen, al kan ons dit nie langer meer doen in die ampte wat ons tot nou toe beklee het nie. Laat ons nie ons hande terugtrek van die take wat ons plig is nie. Laat ons tot God bid om ons te lei en ons te wys hoe ons ons volk bymekaar sal kan hou. Ons moet bereid wees om te vergewe en vergeet wanneer ons ons broers ontmoet. Die deel van ons volk wat ontrou was, mag ons nie verstoot nie.

Burger se plegtige toespraak en bede is roerend en ’n inspirerende boodskap vir komende geslagte – ons mag nie ons plig as Christene en Afrikaners laat vaar, bloot omdat ons ongunstige omstandighede beleef nie.

Getuies van die dramatiese gebeure, vertel hoe swaar dit vir die burgers was om te aanvaar dat die stryd verby is en hulle nou Britse onderdane word. Die digter Jan F.E. Celliers vertel hoe geharde manne soos kinders gehuil het. In die gedig, Vrede-aand, skryf C. Louis Leipoldt:

Nou is die storie uit: die leë glas

Staan droog, wat vroeër so vol met water was;

Die put wat eenmaal water het gegee,

Is vol met trane, souter as die see –

So brak as ooit ’n pan in die woestyn,

Waarop die son al dae helder skyn –

En bitter net soos gal, want in die put

Het al ons volk hul trane afgeskud;

En ons moet daarvan drink, die jare deur,

Al sal die smaak ons hart en siel verskeur.

Tog eindig die storie nie daar nie, in teendeel, dit word steeds geskryf. Soms lyk die omstandighede donker en onoorkombaar, dan verander die geskiedenis weer en bied nuwe hoop en geleenthede vir dié wat volhard. Met die wete dat hierdie dapper groepie krygers nie op 31 Mei 1902 moed verloor het en ophou werk het vir die toekoms van hulle nageslag nie, herdenk ons hulle graag op 31 Mei 2023.

’n Program word andermaal deur Freddie Peters en Barry Müller gereël waaraan alle belangstellendes deel kan hê:

Herdenking van die Vrede van Vereeniging

Program: Woensdag 31 Mei 2023

08:00 – Kom byeen by die onderhandelingsterrein, Vereeniging

09:00 – Besoek Vredesmonument, Vereenging

10:30 – Stop by Witkop-blokhuis langs die R59

13:00 – Diens in Russiese Kerk se gedenkkapel in Midrand

14:30 – Besoek Melrosehuis in Pretoria

16:00 – Kom byeen op die trappe van die Voortrekkermonument

16:30 – Afsluiting by die FAK Liedjietuin by die Voortrekkermonument

Enigeen kan in enige stadium by die program aansluit en almal wat daarna nog by die Voortrekkermonument wil kuier en ’n vleisie braai, is baie welkom!

Vir navrae kontak Freddie Peters by 083 521 3990 of Barry Müller by 072 849 8563.

Soortgelyke plasings