|

Warmbad-tak behaal verskeie suksesse gedurende Mei

AfriForum se Warmbad-tak het in Mei in samewerking met verskeie gemeenskapslede ingespring om onder meer Chris Hani-rylaan skoon te maak en slaggate op te vul. Die ingange na die dorp se gras is gesny en rommel is opgetel om die area netjies te maak. Dit volg nadat die omgewing al hoe meer agteruit begin gaan het.

Die tak het ook aan die jaarlikse geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) deelgeneem en kommentaar opgestel om aan te dui waarvoor die Bela-Bela Plaaslike Munisipaliteit die jaar moet begroot. Dié dokument is by die munisipaliteit ingedien om druk toe te pas oor finansies, projekte en die bestuur daarvan. Dié tak het by ’n beplanningsvergadering oor die GOP AfriForum se insette gelewer.

Verder is ’n vullisterreinoudit  gedoen om te bepaal in watter toestand die terrein is, sowel as om vas te stel of die terrein aan die minimum vereistes voldoen. Noodwaterpunte is ook opgestel nadat die dorp se watertoevoer vir etlike dae onderbreek was. Die tak het selfs water by van die mense gaan aflewer wat nie by die punte kon uitkom nie.

Die tak is deurlopend met hul volhoubare skoonmaakprojek van parke besig, en wil hierdie jaar die Heritage Protection Group (HPG) help om die historiese geboue en -begraafplase in en om die dorp skoon te hou. ’n Gholfdag vir fondsinsameling word vir 30 Junie in samewerking met AfriForum se Nylstroom-takke en Koro Creek Bosveld-gholflandgoed beplan. Mense wat belangstel kan Jandia Roets by 083 265 9287 skakel. Hierdie projekte kan op die tak se Facebook-blad dopgehou word.

“Ons sien uit om die verskil in Bela-Bela te wees. Skynbaar onbeduidende aksies soos om onkruid uit te trek sal op die lang duur ’n groot impak maak,” sê Jandia Roets, tesourier van die Warmbad-tak.

“Ons het nog groot planne vir Bela-Bela; van sypaadjies skoonmaak en straatligte vervang tot die opskerp van inwoners se veiligheid,” sê Piet Botha, voorsitter van die Warmbad-tak.

Soortgelyke plasings