|

Entrepreneurs met lekker Afrikaanse ondernemings kry Tinteltong Toekennings

Entrepreneurs wat daarvan hou om in hul moedertaal handel te dryf én wie se ondernemings name het wat al te lekker op die tong val, is gisteraand in Pretoria met AfriForum Sakenetwerk se Tinteltong Toekennings vereer.

Die spoggeleentheid val saam met Internasionale Moedertaaldag wat jaarliks op 21 Februarie gevier word.

Volgens Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, is daar met die toekennings begin om ondernemings te beloon wat Afrikaans is en hul dienste in Afrikaans bied. “Ons het in 2016 begin deur ’n pakkie te pos aan vier sulke ondernemings wat ons beïndruk het. In 2017 het ons met ’n amptelike feesviering begin, en jaarliks word meer as 10 ondernemings bekroon,” sê Van der Walt.

Sowat 30% van die Suid-Afrikaanse mark is Afrikaans en meer ondernemings moet besef wat die waarde, ook ekonomies, van Afrikaans is.

Karien Brits, ’n taalpraktisyn by Akademia, sê taal bepaal ook ekonomiese sukses. “Taal laat mense veilig voel en daarom is baie Afrikaanssprekendes meer gemaklik om te koop daar waar hulle in hul taal gehelp word. Dit mag vir ondernemings bietjie duurder wees om in ’n spesifieke taal soos Afrikaans besigheid te doen. Maar uiteindelik is dit ’n belegging en bereik jy baie meer as jy met jou teikenmark in hul taal kommunikeer.

“Besighede moet onthou hulle funksioneer nie in isolasie nie, maar is deel van ’n gemeenskap. Afrikaans het ’n ryk geskiedenis en noue verbintenis met sy gemeenskap. Dink maar aan hoeveel skole, kerke, instellings, maatskappye en baie ander monumente in Afrikaans én met koeksister-verkope gebou is. Nes die koeksister is taal vervleg en word gemeenskappe daardeur gebou.”

Daar was vanjaar 11 kategorieë waarvoor entrepreneurs kon inskryf en waarvoor die publiek uiteindelik gestem het. ’n Kategorie vir ondernemings in die buiteland is ook vanjaar vir die eerste keer aangebied.

Die wenners is dit almal eens dat hul trots en geëerd voel om ’n Tinteltong Toekenning te kry en dat dit hul aanspoor om in hul hartstaal te bly werk.

Marc Jacobs, mede-eienaar van Vannie Kaap, wat in die kategorie Eg Afrikaanse produkte gewen het, sê dit beteken vir hom baie as mense raaksien wat hulle doen. “Ek voel baie, baie bevoorreg.”

Vannie Kaap is veral bekend vir hul oorspronklike memes en slagspreuke wat hul op ’n verskeidenheid produkte druk.

Marietjie Cilliers, wat Koffie Kapitaal saam met haar pa, Jaco Beyleveld, bedryf, sê dis ’n baie groot ding om erken te word, terwyl dit baie moeilik en ’n risiko is as jou onderneming in ’n nie-dominante taal is. “Ek is baie dankbaar teenoor die Here vir die geleentheid om besigheid in my moedertaal te doen wat juis vir my so mooi is.”

Jeannie van Zyl, eienaar van die Australiese onderneming Boekwurm, het in die internasionale kategorie gewen en via Skype gesê sy wil help om mense in Australië opgewonde te hou oor Afrikaans as moderne, dinamiese wêreldtaal. Met die 2016-sensus was daar al meer as 50 000 Afrikaanse huistaalsprekers in Australië. Die volgende generasie kan Afrikaans as taal maklik verloor as ouers nie fokus op tweetaligheid en doelgerigte Afrikaanse gesprekvoering nie,” sê sy.

Van Zyl se onderneming fokus op die verkope van Afrikaanse kinderboeke, resepteboeke, Bybels en Bybelstudiemateriaal. Kortom  boeke wat nie juis met digitale alternatiewe vervang kan word nie.

Die wenners in die onderskeie kategorieë is:

  • Kreatiefste Afrikaanse handelsnaam: Kuif en Baard
  • Trippeltoontjies – produk of diens wat op kinders of babas gemik is: Hommelbytjies
  • Eet in Afrikaans: Koekies en Klitsers
  • Handelsmerke wat Afrikaans praat: Jou Plaas Deli
  • Eg Afrikaanse produkte: Vannie Kaap
  • Stories, uitgewers en bloggers: LAPA Uitgewers
  • Handgemaakte produkte en dienste wat Afrikaans praat: Deur die Blare
  • Brou- en stookboetiek – drink alkohol en koffie in Afrikaans: Koffie Kapitaal
  • Eksie perfeksie – Leerprodukte wat Afrikaans praat:  Plaasmeisie
  • Eksie perfeksie – Naaldwerk wat Afrikaans praat: Liewe lente
  • Wêreldwyd Afrikaanse ondernemings in die buiteland (2 toekennings): Boekwurm.com.au en Michelle se kombuis

Soortgelyke plasings