Herstrukturering van polisie broodnodig


Na aanleiding van die misdaadstatistiek wat vandag bekend gemaak is, is dit duidelik dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nie in staat is om die burgers van Suid-Afrika na behore te beskerm nie.
Die gemelde statistiek toon dat die moordsyfer vir die laaste ses jaar elke jaar met 1 000 moorde gestyg het tot waar dit tans op 20 336 moorde vir 2017/2018 bereken word.
Die enigste wyse waarop hierdie tendens hokgeslaan kan word, is om die hele SAPD te herstruktureer en om stappe daar te stel om die NVG op ’n standaard te kry om misdadigers doeltreffend te vervolg.

“Die nuutste misdaadstatistiek is vreesaanjaend om die minste te sê. Vertroue in die wetstoepassers van die land se vermoë om misdaad te beveg word jaar na jaar opnuut geskaad danksy die verhoogde vlak van ernstige geweldsmisdrywe,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Die situasie met betrekking tot die bekamping van misdaad in die land behoort prioriteit te geniet om totale anargie en verval te vermy.

“Die regering se traak-my-nieagtige houding spreek boekdele oor die ontkenning waarmee die regering met hierdie ernstige saak te werk gaan. Hierdie houding straal die beeld uit dat die regering nie van plan is om daadwerklike stappe te neem om die situasie te beredder nie en die misdaadsyfer sal as gevolg hiervan aanhou styg, soos reeds die tendens is,” sluit Cameron af.

Soortgelyke plasings