|

Hessekwa-tak ruim staproete op

AfriForum se Hessekwa-tak het op 5 Augustus ’n skoonmaakaksie wat deur Heidelberg se inwoners van stapel gestuur is in samewerking met die Hessequa Plaaslike Munisipaliteit en lede van die publiek bygewoon. Vrywilligers van Riversdal en Heidelberg het bymekaargekom om die dag ’n sukses te maak en rommel op die staproete naby die Heidelbergdam op te tel. Ongeveer 30 mense het gehelp, waarvan 11 AfriForum-lede was. Hulle het meer as 20 swartsakke rommel verwyder.

Die rommel het onder meer uit plastieksakke en -bottels, blikkies en selfs ou motorbande bestaan. Vivian Louwrens, voorsitter van AfriForum se Hessekwa tak, sê die aksie was nie net goed vir die omgewing nie, maar ook vir die mense. “Dit was nie net ’n skoonmaakprojek nie, maar ook ’n goeie geleentheid om bande met die publiek te smee. Die bestuur van die tak bedank almal wat deelgeneem en hul tyd afgestaan het om ’n verskil te maak.”

“Dit is lekker om te sien hoe ’n gemeenskap bymekaarkom en hoop skep met ’n aksie soos hierdie. Deur verantwoordelikheid vir ons omgewing te neem, skep ons ’n toekoms,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

AfriForum se Hessekwa-tak beplan nog verskeie ander aksies vir die res van die jaar en moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak. Kontak Marthinus Erasmus by 081 216 9602.

Soortgelyke plasings