Misdaad
|

NVG faal steeds vroue wat slagoffers is van geslagsgebaseerde geweld

AfriForum se privaatvervolgingseenheid gebruik Vrouedag  om die eenheid se verbintenis om slagoffers van geslagsgebaseerde geweld te ondersteun deur hulle ’n stem te gee in ’n gebrekkige strafregstelsel wat die mees kwesbares in die samelewing herhaaldelik in die steek laat.

Die eenheid word steeds oorval met pleidooie om hulp van vroue wat in die steek gelaat is deur die einste aanklaers wat verplig is om namens hulle die stryd teen hul aanranders aan te pak. Die mees onlangse klagte het die eenheid verstom gelaat oor nie net die gruwelike aanranding wat na bewering teenoor ’n ma voor haar minderjarige kind gepleeg is nie, maar ook die oënskynlike swak hantering van die slagoffer deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Zakiyah Karim het ingestem dat haar identiteit bekend gemaak word en foto’s van haar mishandelde liggaam gepubliseer word. Sy het ’n weergawe aan die eenheid oorgedra dat sy in November verlede jaar wreed deur haar man, Ahmed Paruk, aangerand is. Tydens die beweerde langdurige aanranding wat in hulle huis plaasgevind het, het Paruk na bewering Karim met skeermeslemmetjies gesny, haar geslaan, haar wenkbroue afgeskeer, hare op haar kop afgesny, haar met ’n byl gedreig en haar naak voor ’n venster laat paradeer. Hy het Karim toe na bewering op die vloer gestamp en op haar naakte lyf geürineer voordat hy haar gedwing het om pille te drink wat veroorsaak het dat sy haar bewussyn verloor.

’n Verdere verswarende faktor was dat Karim besig was om te herstel van ’n keisersnee wat net weke tevore uitgevoer is. Haar pasgebore baba was toe in ’n neonatale waakeenheid.

Karim het ’n gedetaileerde verklaring oor die voorval verskaf aan die aanklaer, en die eenheid het ook verneem dat die beskuldigde se pa as ooggetuie haar weergawe oor die dreigement met die byl gestaaf het.

Paruk is in hegtenis geneem en aangekla van poging tot moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer. In ’n April vanjaar het die beskuldigde skuld erken op aanranding met die opset om ernstig te beseer en erken dat hy haar net “met die vuiste geslaan het”. Die staat het die pleit aanvaar. Die beskuldigde is gevonnis tot ’n jaar gevangenisstraf wat in die geheel opgeskort is en verwysing na ’n herstelsentrum ingevolge artikel 276(1)(e) vir ’n tydperk van 12 maande.

Karim het die eenheid genader toe sy van hierdie pleit verneem het, en sê sy is nie geraadpleeg oor enige aspek van ’n skuldig pleit of vonnis nie. Sy is ook nie versoek om ’n slagoffer-impakverklaring te verskaf nie.

In ’n brief aan die NVG het adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, die vonnis, indien al die getuienis op rekord geplaas is, as skokkend onvanpas beskryf. “If such a plea of guilt, as indicated… is or has been considered or accepted, we would deem it a travesty of justice and consider remedy. We sincerely hope that the NPA has not again proven itself to only pay lip service to its commitment to focus on a case of GBV,” het hy geskryf.

Die NVG het op die brief gereageer, maar geen van die direkte vrae wat met die hantering van die saak verband hou, is beantwoord nie, en die eenheid is eerder aangeraai om ’n afskrif van die hofrekord te bekom om antwoorde op die vrae te kry. Hierdie neerhalende en afwysende advies gerig aan die klaer, wat deur die eenheid verteenwoordig word, is aanduidend van ’n vervolgingsgesag wat lippediens lewer aan die regte en bekommernisse van slagoffers van geslagsgebaseerde geweld.

In plaas daarvan om bloot vrae te beantwoord wat ’n slagoffer van geslagsgebaseerde geweld kan help om die proses te verstaan, het die NVG die eenheid na sy integriteitbestuurseenheid verwys om ’n klag in te dien. Weereens is die NVG se belofte om slagoffergerig te wees niks meer as lippediens .

Soortgelyke plasings