|

Hokaai, boelies! Leerders van Kaapstad-Noord weet nou hoe om boelies af te weer

Meer as 830 leerders van Kaapstad-Noord is nou bemagtig met vaardighede om boeliegedrag te identifiseer en op ’n positiewe manier teen te staan. AfriForum se teenboelieveldtogspan en hul gelukbringer, Matteus, het op 8 en 10 Mei ’n interaktiewe teenboelie-praatjie by dié leerders se skole gedoen, wat gebaseer is op die volle wapenrusting van God.

Die span van AfriForum se Teenboelieveldtog het leerders en personeel aan Laerskool Bellville-Noord, Paarl-skool en Hebron Christenskool toegespreek. Hulle het ook besoek afgelê by die Oom Vossie Voortrekkerkommando.

Volgens navorsing is kinders wat geboelie word drie keer meer geneig om chroniese hoofpyne en migraines te ontwikkel. Dit beklemtoon hoe diep die impak van boeliegedrag kan wees, nie net emosioneel nie, maar ook fisies.

“Dit is dus van kardinale belang om leerders op ’n jong ouderdom met die vaardighede toe te rus om boeliegedrag hok te slaan,” sê Tania Scheepers, AfriForum se projekassistent vir onderwys.

AfriForum bemagtig skole landwyd met dié veldtog vir die afgelope sewe jaar deur hoop te skep en om kinders aan te moedig om mekaar met die nodige wedersydse erkenning en respek te hanteer. “Hierdie veldtog maak ’n positiewe bydra tot die groter veiligheid van gemeenskappe deur die boompies te buig terwyl hulle nog jonk is – die jeug is immers ons toekoms,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

Volgens Johann Mostert, skoolhoof by die Laerskool Bellville-Noord, het die leerlinge die teenboelie-praatjie baie insiggewend gevind.

Ilze Lammers van die Oom Vossie Voortrekkerkommando, sê: “Boeliebewusmaking is ’n uiters belangrike taak wat ons as ouers, opvoeders en enige persoon wat ’n invloed in ’n kind se lewe het, opgelê word. Die feit dat AfriForum die wapenrusting van God gebruik om dit te verwoord en op die kinders se vlak te verduidelik, is fantasties en van onskatbare waarde.”

Luidens Hanlie Bestbier, die Paarl-skool se adjunkhoof, is onkunde in dié skoolgemeenskap oor wat boeliegedrag werklik behels die grootste rede waarom bewusmaking daarvan nodig is. “Dit gebeur dikwels dat gedrag wat bloot spruit uit onmin of konflik tussen leerders as boeliegedrag beskou word. Boeliebewusmaking is voorts nodig om leerders te bemagtig met die regte vaardighede om hulself te beskerm.”

Emsie Swanepoel, skoolhoof by Hebron Christenskool, voer aan dat hierdie praatjie oor boeliegedrag die beste nóg was omdat die leerders geleer het hoe om as kinders van Jesus hulself teen boelies te beskerm.

Vir meer inligting oor AfriForum se Teenboelieveldtog en om die teenboelie- en kuberboeliegids gratis af te laai, besoek  www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings