|

Klerksdorp-tak tref rioolaanleg in chaos aan ná roof

AfriForum se Klerksdorp-tak het op 25 Mei die dorp se rioolwerke gaan inspekteer ná ’n hofbevel wat die Matlosana-munisipaliteit beveel het om herstelwerk by die rioolwerke te doen.

Die taklede het die aanleg in chaos aangetref ná ’n gewapende roof waartydens koperkabels gesteel is. Die nag ná die inspeksie het die booswigte weer toegeslaan en die elektriese netwerk wat gedeeltelik herstel was, verder geplunder.

Die lede van AfriForum se Klerksdorp-tak, wat die inspeksie waargeneem het, kon sien dat die munisipaliteit ’n daadwerklike poging aangewend het om die rioolwerke in ’n goeie werkende toestand te kry, maar hierdie plundery lê die proses lam. Die tegniese ingenieur, Khotso Seleke, is verpletter omdat hulle goeie werk nou ongedaan gemaak is. Volgens Seleke is die werkers se moraal ook nou baie laag.

“Die munisipaliteit sal baie gou ’n plan moet bedink om die sekuriteit by die rioolwerke op te skerp. Toegangsbeheer is nie voldoende nie, gewapende wagte is noodsaaklik,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Frans Roos, voorsitter van die Klerksdorp-tak, sê dat die sekuriteit gebrekkig is en nie die stroping sal kan stuit nie. Hierdie stroping, vandalisme en diefstal van munisipale eiendom vra vir ’n dringende veiligheidsberaad. Druk moet op die owerhede geplaas word vir die beskerming van sleutelinstansies en die personeel wat daar werk nie. 

Indien jy by dié AfriForum-tak wil wil betrokke raak kontak Frans Roos by 083 378 8826.

Soortgelyke plasings