|

AfriForum Teater vier Wêreldteaterdag

Op 27 Maart vier AfriForum Teater soos vele ander teaterliefhebbers Wêreldteaterdag. Dié dag is in 1961 deur die Internasionale Teaterinstituut (ITI) geïnisieer en sedertdien word dit reg oor die wêreld gevier. Teaters wil op hierdie dag die belang van teaters as ’n kunsvorm onder die aandag van instansies, individue en die regering bring. Teaters voeg waarde by mense se lewens, skep werk en dra tot ’n land se ekonomiese groei by.

AfriForum Teater se storie is uniek en het gedurende die nasionale inperking van die Covid-19-pandemie begin. Dié teater het hoop geskep in ’n tyd wat kunstenaars en teatertegnici moedeloos was. Dit was moontlik om die teater te open in ’n tyd waar soveel geleenthede ontoeganklik was juis omdat  mense altyd ’n behoefte aan konneksie het.

In die milieu van ’n teater lyk verbindinge vir almal anders. Teater skep ’n ruimte waar ’n mens van die buitewêreld kan afskakel en wek ’n gedeelde ervaring – iets om oor te gesels. Die gehoor kan ook met die toneelstuk self skakel terwyl die teaterganger hom of haarself met die karakters en die storielyn kan vereenselwig.

Die teater se konneksie met die wêreld het sedert 1961 wel verander aangesien teaters vandag deur sosiale media met groter gehore kan skakel. Teaters kan nou na ander organisasies uitreik, hande vat, vernuwend oor teater dink en die manier waarop die kosbaarste stories vertel word. Wat egter dieselfde gebly het is dat teaters steeds ’n tuiste vir die kunste is.

“AfriForum Teater is dié tuiskomplek vir die gemeenskap en een van die teater se fokuspunte is om ’n ruimte vir ’n  professionele teaterervaring vir skole en gemeenskapsorganisasies te kan wees. Op Wêreld-teaterdag nooi ons ieder en elk om deel te wees van die wonderwêreld van die kunste. Kom en ervaar ’n opvoering, wees bewus van die mense langs jou en hang aan die kunstenaars se lippe,” sê Carien Bloem, bestuurder van AfriForum Teater.

Besoek gerus www.afriforumteater.co.za om te sien wat eersdaags op die planke is.

Soortgelyke plasings