| |

Kyk: Nuwe noordstreek-beheerkamer ’n mylpaal vir gemeenskapsveiligheid

 

’n Beheerkamer is nie net vier mure met ’n radio, antennas en ’n skofrooster nie. ’n Beheerkamer is die nodale punt van veiligheid en as ’n gemeenskap ’n beheerkamer het, is hy meer toegerus om misdaad op grondvlak te help bekamp.

Só het Jan Wessels, bedryfshoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, gesê tydens die amptelike bekendstelling van AfriForum se nuwe noordstreek-beheerkamer in Ellisras. Dié beheerkamer gaan buurtwagte in Gauteng, Limpopo en Mpumalanga bystaan en is in samewerking met Monster Sekuriteit opgerig.

Die beheerkamer is ’n mylpaal vir die burgerregte-organisasie, wat aktief betrokke is by gemeenskapsveiligheid en die deurlopende stryd teen misdaad.

Dié projek is vir die afgelope twee jaar reeds in werking en het begin toe tak-vrywilligers AfriForum se nasionale radionetwerke begin moniteer het om plaaslike buurtwagte se hand te versterk. Dit het egter só vinnig ontwikkel en gegroei dat daar besluit om ’n amptelike beheerkamer op te rig met voltydse personeel wat 24 uur ’n dag en sewe dae ’n week die sowat 65 buurtwagte in die noordstreek sal bystaan.

Die nuwe beheerkamer sal AfriForum-buurtwagte in die noordstreek help om hul kommunikasie en insameling van inligting te verbeter sodat hulle suksesvol met die SAPD en ander instansies kan koördineer en proaktief in noodgevalle kan optree. Dit help ook met die insameling van misdaadstatistieke sodat misdaad proaktief bekamp en misdaadvoorkomingsaksies daarvolgens beplan kan word.

“Ons wil verseker dat ons buurtwagte binne die raamwerk van die wet optree, veilig is en die regte hulpbronne het om optimaal gemeenskappe te help beveilig,” sê Hillel Coetzer, hoof van die noordstreek se gemeenskapsveiligheid.

“Samewerking tussen verskillende instansies kan daartoe lei dat ons meer kapasiteit skep om ‘n verskil te maak en ons gemeenskappe te beveilig deur proaktiewe maatreëls in plek te kry.”

Kol. Daniel Ramakgoakgoa, stasiebevelvoerder by die Lephalale-polisiestasie, het tydens die bekendstelling die burgerregte-organisasie bedank vir hul samewerking en die manier waarop hulle die gemeenskap dien. “Ons kan nie al die uithoeke van die dorp bereik nie en forums en instansies soos AfriForum maak ons hande sterker deur ons oë en ore op grondvlak te help wees.”

 

 

Soortgelyke plasings