|

KYK: Twee bedrewe afgetrede woordvroue skep ’n boekelushof

In Maart vanjaar het twee vroue, Marga Ley, afgetrede veteraanjoernalis van Beeld, en Tina Swiegers, afgetrede joernalis wat ook in die korporatiewe wêreld gewerk het, koppe bymekaar gesit en besluit hulle kan nie ná hul aftrede net sit en rondhang nie.

Hulle is immers nog op en wakker en boonop deel hulle ’n passie vir mense en boeke. Dit het tot die ontstaan van die Boekeplek & Kuierstoep in Garsfontein gelei.

Die idee het by Marga ontstaan. “Ek was lank siek en het in die bed gelê en gelê. En toe gebeur dit dat ek sommer die hele dag slaap en die hele nag TV kyk. Mense het vir my gesê dis ’n baie swak leefstyl en dit kan jou baie maklik in ’n put laat beland.

“Ek en Tina het jare terug saamgewerk en toe sien ek sy het ook afgetree en klink ook maar taamlik ongelukkig. Toe maak ek met haar kontak en vertel haar van my idee. En hier is die Boekeplek & Kuierstoep vandag en ons vul mekaar goed aan.”

Marga was 37 jaar in die joernalistiek en met die uitsondering van ’n amper vyf jaar wat sy en haar oorlede man, Bernie, in Namibië gewoon het, was sy deurentyd by Beeld. Sy het nadat Beeld se personeel na Netwerk24 oorgeskuif het, besluit om by Beeld te bly. Sy het daar begin toe die publikasie 16 000 eksemplare verkoop het en gebly tot by die toppunt van 120 000. Sy is later die pos as tuisredakteur by Netwerk24 aangebied –  as’t ware die heel laaste persoon (hekwagter) wat seker maak dat kopie reg is en op die webtuiste geplaas word. Marga meen koerante sal uiteindelik digitaal word, maar plek vir boeke en mense se liefde vir boeke sal altyd daar wees. “Hier kom baie mense in wat ’n Kindle het, maar niks kom by die reuk en vashou van ’n regte boek nie.”

Marga Ley

Tina vertel hulle het in Maart begin woeker en baie hard gewerk. Boekrakke is geverf en daar is begin om ou boeke aan te koop en uit te snuffel. Hulle doen moeite om boeke te soek wat mense graag wil lees. Hulle koop veral boeke aan wat mense aan liefdadigheidsinstansies skenk. En heelparty besoekers aan die Boekeplek & Kuierstoep bring ook van hul eie boeke en skenk dit.

“’n Jong meisie wou nou die dag uit haar vel spring toe sy Shakespeare se versamelde werke hier opgespoor het. Sy is mal oor Shakespeare en het gesê dié versameling gaan ’n erfstuk in hul huis word.”

Daar is ‘n indrukwekkende versameling oorloggeskiedenisboeke by die Boekeplek.

Daar is ’n wye verskeidenheid wat bestaan uit Westerns, Romans, ’n uitstekende versameling oorloggeskiedenisboeke en oorlogverhale, reisboeke, fiksie en nie-fiksie (in Afrikaans en Engels), kosboeke (uitgestal op die Vat die kans en sit ’n voorskoot aan-rak), humoristiese boeke, natuurboeke, outobiografieë en biografieë, versamelde werke, godsdienstige boeke, Bybels (wat hulle verniet weggee), selfhelpboeke en kinderboeke. Daar is ook ’n Ena Murray gedenkrakkie en die Spronck-gedenkversameling. Oom Spronck en sy vrou van Pretoria moes na ’n kleiner plekkie toe trek en het al hul boeke geskenk. Hy is ongelukkig intussen oorlede, maar die rakkie sal bly tot al hul boeke verkoop is.

Marga vertel die grootste vreugde van die Boekeplek is as iemand opdaag en letterlik in vervoering raak oor ’n boek waarna hulle al baie lank soek. “’n Jong meisie wou nou die dag uit haar vel spring toe sy Shakespeare se versamelde werke hier opgespoor het. Sy is mal oor Shakespeare en het gesê dié versameling gaan ’n erfstuk in hul huis word.”

Marga skenk ook 50% van die opbrengs uit die boeke vir liefdadigheid soos die Jakaranda-kinderhuis, Huis Gideon en ’n diereplek. “Die wins is nog nie enigsins astronomies nie. Maar ’n mens is in elk geval nie in die tweedehandse boekebedryf om geld te maak nie.”

‘n Stuk koek kos net R20 by die Boekeplek.

“Pik Botha het ook in sy boek vir my ’n lang, nice stuk geskryf. Hoe kan jy so boek verkoop?”

Baie van die boeke is ook van Marga se eie boeke wat sy oor jare versamel het. “Dit het my drie maande gevat om afskeid van my boeke te neem. Ek het hulle so gesit en kyk en besef hierdie boeke is my moskombersie waaroor Laurika Rauch sing. Maar toe dink ek gits netnou gaan ek dood en wat gaan my familie doen? Hulle gaan dit vir iemand gee wat dit dalk gaan verpulp of so iets! Toe dink ek hoekom doen ek nie iets wat my en ander mense plesier verskaf nie.”

Sy het egter ’n klompie baie spesiale boeke uitgehou wat op ’n rak in haar slaapkamer is. “Baie van die boeke is waarin mense vir my iets geskryf of geteken het. Tussen hulle het ek nou die dag ’n boek gekry van Nico Smit se lewe. Ek kon nie glo toe ek die boek oopmaak en sien hy het vir my man ’n boodskap daarin geskryf nie. Ek het nie eens geweet ek het die boek nie. Pik Botha het ook in sy boek vir my ’n lang, nice stuk geskryf. Hoe kan jy so boek verkoop?”

Sedert die opening van die Boekeplek in Oktober was daar ook ’n paar boekbekendstellings. Dana Snyman se jongste boek “In die tyd van die Gif” en “Goed, Beter, Betsie” van Elize Labuschagne-Hull is bekendgestel en talle gaste het dit bygewoon. Die skrywer Chris Carsten het byvoorbeeld ook al onverwags by die Boekeplek ’n draai kom maak.

“Ons wil hê die Boekeplek & Kuierstoep moet vir mense ’n lekker ervaring wees. Hulle moet hier onder die koeltebome kom sit, ’n koppie tee drink, ’n stukkie koek eet en hulle verlustig in die boeke wat hier is,” sê Marga.

Vir Tina het hulle in hul aftreetyd ’n paradys geskep. Die vreugde op mense se gesigte wanneer hulle ’n boek kry waarna hulle al lank soek, is onbeskryflik en dit maak hierdie plek só spesiaal.

Marga en Tina nooi die publiek en AfriForum-lede uit om die Boekeplek & Kuierstoep  by Aureliastraat 658 in Garsfontein te besoek. As daar mense is wat nie in Gauteng woon nie, maar ook na ’n spesiale boek (ook ou boeke) opsoek is, kan hulle Marga by 083-708-3366 of Tina by 083-386-4045 skakel. Indien die boek beskikbaar is, sal hulle dit koerier. Vir meer inligting besoek Boekeplek & Kuierstoep op Facebook.

Soortgelyke plasings