|

AfriForum verwelkom mislukking van grondonteieningswetsontwerp

Die burgerregteorganisasie AfriForum neem kennis dat die Nasionale Vergadering vandag daarin misluk het om die voorgestelde wysigings aan Artikel 25 van die Grondwet te aanvaar. Hierdie wysigings sou die onteiening van eiendom sonder vergoeding moontlik gemaak het. Die ANC het daarin misluk om die tweederdemeerderheid te kry wat nodig was om die wetsontwerp te aanvaar.

“Die mislukking van ’n diep immorele wetsontwerp wat staat goedgekeurde diefstal en menseregteskendings sou toelaat, is ’n groot oorwinning vir Suid-Afrikaners. Onteiening sonder vergoeding is ’n onmenslike beleid wat gemotiveer word deur ’n kombinasie van korrupte hebsug en wrok,” sê Ernst van Zyl, veldtogtebeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Ons het die katastrofiese verwoesting gesien wat onteiening sonder vergoeding beleide in lande soos Zimbabwe en Venezuela  veroorsaak het asook die lyding wat hierdie beleide vir die gemiddelde burgers van daardie lande veroorsaak het. Daarom moet die nederlaag van ’n poging om daardie aaklige en vernietigende beleide hier in Suid-Afrika te herskep gevier word,” sluit Van Zyl af.

AfriForum is bewus daarvan dat die stryd om eiendomsreg in Suid-Afrika te beskerm nie verby is nie en dat hierdie regte weer in die toekoms bedreig kan word. Daarom herbevestig die organisasie sy toewyding om as burgerregtewaghond op te tree teen sulke skendende beleide en om dit ten sterkste teen te staan sou dit weer oorweeg word.

Soortgelyke plasings