|

Luscombe-park binne vyf jaar in ’n lushof omskep

Vyf jaar se deurlopende harde werk en ure se sweet. Dít is wat AfriForum se Oudtshoorn-tak sedert 2019 ingesit het om die Luscombe-park in die suide van dié dorp van ’n dorre lappie aarde in ’n groen lushof te omskep. Die tak het in 2019 hul werk afgeskop met die aanplant van ses witstinkhoute en witkareebome. Sedertdien is die park verder opgeknap, gras is aangeplant en saam met verskeie ander bome elders in die dorp onderhou.

Volgens Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, het die Oudtshoorn-tak binne vyf jaar die park in ’n ware juweel vir die gemeenskap omskep. “Die ses bome wat in September 2019 geplant is, groei steeds welig en die gemeenskap kuier graag op die groen grasperk. Lede van die Oudtshoorn-tak tel gereeld vullis in die parkie op en sorg dat dit ’n lus vir die oog bly,” verduidelik hy. “Ons nooi graag die gemeenskap uit om in die park te kom kuier en die skoonheid daarvan saam te geniet.”

Vergelykende foto’s uit 2019 en 2024 toon duidelik hoe die park se eens dorre voorkoms in skrille kontras staan met die huidige toestand van hierdie groen oase.

Erasmus benadruk dat die Oudtshoorn Munisipaliteit die tak gereeld bystaan in die instandhouding van die park en bedank die owerheid se verbintenis tot hierdie projek.

Intussen maak die Oudtshoorn-tak nog planne vir die verdere vergroening van die park en beoog om hul planne, as deel van AfriForum se nasionale boomplantmaand wat in September aangebied word, uit te voer.

Soortgelyke plasings