|

Mafube-saak: Hof beslis verpligte provinsiale ingryping en implimentering van finansiële herstelplan

Regter I. van Rhyn het laat gistermiddag in die Vrystaatse Hooggeregshof uitspraak gelewer dat die premier verplig word om die Mafube Plaaslike Munisipaliteit nie net onder gedwonge administrasie te plaas nie, maar ook dringend ’n finansiële herstelplan te implementeer. Verder het die hof beveel dat daar dadelik ook by die rioolinfrastruktuur tussenbeide getree moet word om die besoedeling van die Vaal- en Wilgerivier te staak.

Volgens Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum, het die hof bevind dat verpligte intervensie onder artikel 139 van die Grondwet moes alreeds plaasgevind het, maar die premier was laks om nie hierdie verpligtinge na te kom nie. “Die premier het van 2017 nie opgetree om grondwetlike beginsels te beskerm nie.  Dit sluit in basiese regte soos om dienste op ’n volhoubare wyse te lewer, ’n gesonde en veilige omgewing te verseker en te verseker dat gesonde finansiële en bestuurspraktyke geïmplementeer word,” verduidelik Mostert.

“Gemeenskappe en belastingbetalers is eenvoudig keelvol vir swak dienslewering en munisipaliteite wat onbevoeg is om basiese dienste te lewer. Slaggate, gereelde watertekorte, ’n gebrek aan vullisverwydering en ’n wanfunksionerende rioolstelsel is maar enkele van die probleme wat inwoners van dié dorp ervaar. Die munisipaliteit het ook vir etlike jare geen munisipale rekeninge aan inwoners gestuur nie,” voeg Jacques Jansen van Vuuren, skakelbeampte van die Mafube Besigheidsforum, by.

AfriForum en die Mafube Besigheidsforum het die hofaansoek gebring namens die inwoners van Frankfort. Frankfort ontvang reeds vir jare nie meer behoorlike munisipale dienste nie en die munisipaliteit is amptelik bankrot.

“Hoewel plaaslike owerhede outonoom is, is daar steeds binne die Grondwet ’n oorsigbevoegdheid van die provinsiale regering om te verseker dat dienste gelewer word. In hierdie geval was die provinsiale regering bewus van die munisipale probleme, maar niks is egter daaraan gedoen nie. Indien die premier nie hierdie probleme oplos nie bly dit uiteindelik steeds die president se verpligting om te verseker dat dienste in die Mafube-area gelewer word,” sê Mostert.

Soortgelyke plasings