|

Maties klop Pukke tydens Dink of Sink-universiteitsdebatkompetisie

Moet Suid-Afrikaners ’n belastingboikot ondersteun?

Debatspanne van die Universiteit van Stellenbosch (US) en die Noordwes-universiteit se Potchefstroom-kampus (NWU) moes oor dié moeilike onderwerp in die finale rondte van vanjaar se Dink of Sink-universiteitsdebatkompetisie debatteer.

Dié kompetisie is vanjaar vir die derde keer in samewerking met AfriForum, die Afrikaanse Gemeenskap- en debataksie (AGENDA), die FAK en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, aangebied.

Tien spanne het vanjaar deelgeneem en anders as die meer informele Dink of Sink-skooldebat, waar leerlinge slegs vyf minute kry om voor te berei, volg Dink of Sink se universiteitsdebat die meer formele Britse parlementêre debatstelsel. Dit behels dat studente ’n uur vir voorbereiding kry.

Maties, wat die afgelope twee jaar slegs die semifinale rondte van die kompetisie gehaal het, het vanjaar bewys dat derde keer skeepsreg is toe hulle die Pukke in die finale rondte geklop het. Dié wenspan het bestaan uit Darren Maree, Alten du Plessis, Hendré Cubitt en Eduan Beukman.

Volgens Hendré, wat sedert sy skooldae aan Dink of Sink-skooldebat deelneem, het beide spanne hul goed van hul taak gekwyt in die finaal. “Dit was ’n moeilike onderwerp. Ons was nie seker dat ons sou wen nie want ons dink beide spanne het baie goeie argumente gehad.” Hy sê voorts dat hy die universiteitsdebat baie geniet omdat dit ’n meer aktuele aanslag as skoledebat het.

Volgens Eduan is dit baie belangrik dat jongmense geleer word om debatte oor moeilike onderwerpe te voer. “Baie jongmense beskou iets soos belasting as ’n ‘grootmens-saak’, maar dit is tog belangrik dat die jeug daaroor ingelig is en hul mening daaroor kan gee. Daar is baie probleme in die wêreld wat opgelos moet word, maar as ons nie gaan saam sit en konstruktiewe gesprekke daaroor het nie, gaan daar nie oplossings kom nie.”

Hul mede-spanmaat, Darren, het ook uitgelig dat debat belangrik is omdat dit nie net vir jongmense leer om ’n mening te hê, maar ook hoe om dit te staaf. “Ons sien veral op universiteit hoe mense met mag en mening oor ’n onderwerp baklei, maar geen manier het om hul argument te staaf nie. Mense sluit dan af want hulle is nie geleer hoe om ordentlik diskoers te voer oor sekere onderwerpe nie.”

Volgens Carien Bloem, onderwyskoördineerder by AfriForum, is die burgerregte-organisasie baie opgewonde dat Dink of Sink uitgebrei het en nou tot op universiteitsvlak aangebied kan word.

“Die feit dat daar soveel instellings van regoor die land deelneem, wys vir ons dat daar ’n enorme behoefte is vir jongmense om aan sulke soort kompetisies deel te en dit dui daarop dat die vooruitgang van die kompetisie baie belowend lyk.”

Soortgelyke plasings