|

Met nuwe wet oor rassisme wil ANC kritiek teen hom strafbaar maak

Ernst RoetsRhoda KadalieProf Koos Malan

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Die ANC se voorgestelde Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak (die wetsontwerp) voldoen aan dieselfde basiese elemente as wat in die 1970’s deur die ANC teen apartheid aangevoer is om dit tot ’n misdaad teen die mensdom te verklaar, aldus die burgerregte-organisasie AfriForum.

“Rassisme is soos ’n kanker wat indruis teen vreedsame naasbestaan, wedersydse erkenning en sosiale kohesie, daarom moet dit beveg word. As mense egter links en regs in die tronk gegooi word vir beweerde rassisme gaan dit hierdie land verseker nie nader aan ’n oplossing bring nie,”

sê Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, oor die beoogde nuwe wet wat behels dat Suid-Afrikaners wat hulself skuldig maak aan haatspraak of rassisme, tronk toe kan gaan.

Luidens mediaberigte is die wetsontwerp reeds deur die departement van justisie opgestel en sal dit binnekort voor die kabinet dien. Hoewel die besonderhede van die wetsontwerp nog nie bekend is nie, meen Roets die ANC het dit reeds laat blyk dat die wetsontwerp ten doel het om “rassisme of enige handeling wat apartheid verheerlik” te kriminaliseer en dat gevangenisstraf daarvoor opgelê sal word.

Hy verduidelik dat die wetsontwerp byna woordeliks strook met die teks van die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme, wat in 1950 deur die Nasionale Party aanvaar is. Volgens Roets was hierdie wet en die toepassing daarvan een van die grootste beweegredes waarom apartheid gedurende die Koue Oorlog tot ’n misdaad teen die mensdom verklaar is.

“Die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme het die bevordering van kommunisme gekriminaliseer en die verheerliking daarvan kon tot tronkstraf lei. Die wet is volgens die ANC ook gebruik om kritici van die regering se politieke program te snoer. Die NP-regering het aangevoer dat hulle die regte ding doen, aangesien hulle bedoelings suiwer was en kommunisme boos is,” het Roets verduidelik.

Hy het voorts gesê dat die ANC se wetsontwerp ten doel het om die bevordering van apartheid te kriminaliseer en die verheerliking daarvan kan tot tronkstraf lei.

“Hierdie wet sal ongetwyfeld ook aangewend word om kritici van die regering se politieke program te snoer. Ook hier sê die ANC dat hulle die regte ding doen, omdat hulle bedoelings suiwer is en apartheid boos is.”

Rhoda Kadalie, menseregteaktivis en voormalige kommissaris van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, het aan Forum Nuus gesê dit sal moeilik wees om dié wetsontwerp 100% regverdig toe te pas omdat die ANC bewyse moet lewer dat daar ’n kousale verband is tussen haatspraak en misdaad in Suid-Afrika.

“As tronkstraf uitgedien moet word vir rassisme en haatspraak, sal die hele ANC agter tralies beland.”

Sy sê dit is ook problematies dat die wetsontwerp deur die huidige regerende party opgestel word.
“Hierdie wet kan nie effektief wees as die dieselfde groep wat dit opstel, dit reeds telkemale oortree het nie. Wat geld vir die publiek sal moet geld vir die regering en tans werk dinge nie só nie.”
Sy is ook van die mening dat die ANC rassisme en die wetsontwerp as politieke propaganda gebruik om kiesers te mobiliseer kort voor die komende munisipale verkiesing.

“Die regering is kortsigtig en het nie deeglike navorsing gedoen nie. Die feit dat ’n groep deel is van die meerderheid, beteken nie dat hulle altyd reg is nie.”

Sy sê voorts dat die wetsontwerp nie die oplossing vir rassisme is nie en dat die regering eerder daarop moet fokus om versoening te bevorder deur landsbugers meer oor hul regte en ander se kulture te leer.

“Die handves van menseregte behoort deel van basiese onderrig te wees. Deur mense te leer oor hul regte en verskille sal beter begrip en wedersydse respek tussen Suid-Afrikaners meebring.”

Prof. Koos Malan, dosent in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria (UP), het aan Forum Nuus gesê dat die huidige wetgewing op gemene regtelike misdrywe, reeds deur crimen injuria (strafregtelike lastering) en die misdryf van belediging, voldoende straf bied vir mense wat rassistiese aanmerkings maak.
“Die huidige wetgewing is reeds wyd genoed om kriminele haatspraak op grond van ras te verbied. Die regering wil eenvoudig onder ’n dekmantel van die nuwe wetsontwerp kritiek teenoor homself strafbaar maak.”

Prof. Christo Botha, dosent in wettereg aan die UP, sê ook dat die regering bloot die sosiale probleme van die land met nuwe wetgewing wil doodgooi.

“Hierdie wetsontwerp is ’n politieke foefie wat net meer probleme sal skep indien dit geïmplementeer word. Ons regering sal nie die kriminalisering van rassisme regverdig en effektief kan beheer nie,” het Botha gesê.

Die vakbond Solidariteit het gesê die ANC se rassepolitiek is gevaarlik. Die regerende party moet homself eerder daarop toespits om werk te skep en om sy beleidsrigtings wat die ekonomie kniehalter, te staak in plaas daarvan om ras as politieke instrument te gebruik om sy vervreemde kiesers se stemme te wen, lui ’n verklaring in reaksie op die voorgestelde wetsontwerp.

Volgens Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, word die reeds bestaande wetgewing teen rassisme verkeerdelik geïmplementeer en toegepas. “Ons veroordeel enige vorm van rassisme ten sterkste. Die bestaande wetgewing word egter subjektief baie selektief geïnterpreteer ten einde politieke veld te wen ten koste van sekere individue en groepe.”
Van der Bijl het ook verduidelik dat daar reeds baie onsekerheid bestaan oor wat as rassisme en haatspraak gedefinieer kan word en dat die instelling van tronkstraf die onsekerheid net verder sal verhoog.

“Wat in die wetgewing bedoel word met ‘enige handeling wat apartheid verheerlik’ is ook onseker en dit skep die moontlikheid dat subjektiewe polities-gedrewe menings daartoe kan lei dat persone onregverdig tronk toe gestuur kan word,” het Van der Bijl gesê.

Lees ook hier AfriForum se 15 redes waarom die ANC se wetsontwerp oor rassisme ’n baie slegte idee is.

 

 

Soortgelyke plasings