|

MRK genader oor menseregteskendings op Steynsrus

Ná byna drie weke van geen watervoorsiening- en vullisverwyderingsdienste op Steynsrus nie is die AfriForum-tak op dié dorp gister (14 Februarie) genoodsaak om die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit by die Menseregtekommissie (MRK) te verkla.

’n Betoging oor beweerde nepotisme by die munisipaliteit het op 25 Januarie op die dorp begin en sedertdien is basiese dienslewering tot stilstand gedwing. Sommige inwoners is ongelukkig oor nuwe aanstellings by die munisipaliteit en vereis dat dit hersien word.

AfriForum se Steynsrus-tak het intussen talle klagtes van inwoners ontvang dat die munisipaliteit, oënskynlik as gevolg van die voortslepende betogings, nie voldoende en betroubare watertoevoer en vullisverwydering voorsien nie.

Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland-streek, het reeds verlede week ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig om te versoek dat dienslewering op Steynsrus dringend hervat word. Daar was egter tot dusver geen terugvoer of optrede van die munisipaliteit nie, wat AfriForum genoop het om die MRK te nader. Die munisipaliteit se eenheidsbestuurders op Steynsrus, Nini Sithole en Portia Tshabalala, is by die MRK verkla oor hul versuim om hul amptelike pligte teenoor die gemeenskap na te kom.

Ikking wys daarop dat die voortdurende wateronderbrekings op Steynsrus ’n duidelike skending van inwoners se grondwetlike reg op toegang tot water is. Die gebrekkige watertoevoer en vullisverwydering, en die ernstige gesondheidsrisiko wat dit inhou, kom ook neer op ’n skending van inwoners se reg op menswaardigheid.

“Hierdie skending van inwoners se basiese menseregte is die direkte gevolg van die betrokke amptenare se versuim om hul wetlike verpligtinge na te kom,” sê Ikking.

AfriForum eis dat die MRK hierdie menseregteskendings ondersoek en dat die munisipaliteit so gou moontlik basiese dienslewering hervat.

Ella Marx, voorsitter van die Steynsrus-tak, het intussen lede van die gemeenskap bedank wat hand by gesit het en die tak gehelp het om vullis van die strate af op te tel. Die NG Kerk Steynsrus voorsien in oorleg met die tak water aan inwoners.

Soortgelyke plasings