|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek stem dik gemaak om vryheid van spraak en basiese menseregte te beskerm. Dié burgerregteorganisasie se takke was ook bedrywig met allerlei aksies om ’n verskil in hul gemeenskappe te maak.

’n Groot oorwinning is vir vryheid van spraak behaal toe AfriForum gehelp het om die tydelike skorsing van die Noordwes-Universiteit student Shaun Christie sodanig opgehef te kry dat hy weer kan klasse bywoon en toetse skryf. ’n Herrie het uitgebreek by verlede week se verpligte eerstejaars inligtingsessie toe Christie beswaar gemaak het oor die inhoud van die praatjie wat onder meer LBGTQIA+-regte ingesluit het terwyl hy meen studente bang is om oor hul Christenskap te praat. Hy is tydelik geskors, maar danksy AfriForum se toetrede tot die saak is die skorsing gedeeltelik opgehef.

Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Jeug, en Shaun Christie

Elke individu het die reg tot ’n omgewing wat nie skadelik is vir hulle gesondheid of welstand nie – dít is een van die basiese regte van elke persoon soos vervat in die Grondwet. Dié reg is egter buite bereik vir die inwoners van Upington waar rou riool op talle plekke in dié dorp vloei as gevolg van die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit se onvermoë om infrastruktuur in stand te hou. Die AfriForum-tak in Upington het die munisipaliteit daarop gewys dat daar op minstens vyf plekke in die dorp riool-lekkasies is en dringende optrede gevra.

Na aanleiding van die gebeure op Groblersdal die afgelope paar weke, verwerp AfriForum die optrede van enige organisasie of individu wat chaos in die gemeenskap saai. AfriForum is egter terselfdertyd sterk gekant teen die duidelike dubbele standaarde en selektiewe vervolging wat tans hier plaasvind. Wetteloses uit ANC- en EFF-geledere word oënskynlik nie vervolg nie.

AfriForum se Steynsrus-tak het ’n klagte teen die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien. Dit volg ná dié dorp ná bykans drie weke steeds geen watervoorsiening- en vullisverwyderingsdienste het nie. ’n Betoging oor nepotisme by die munisipaliteit het op 25 Januarie dienste tot stilstand gedwing. Versoeke van die AfriForum-tak aan die munisipaliteit om dienste te hervat het op dowe ore geval.

Betogings in Steynsrus

AfriForum het gemeenskappe in die Karoo gehelp toe grootskaalse kragonderbrekings in dorpe insluitend Prins Albert, Merweville en Laingsburg plaasgevind het. Kragpale het tydens ’n  storm omgewaai wat tot die kragonderbreking gelei het. Diesel is onder meer aan aftreeoorde geskenk om kragopwekkers aan die gang te hou en in Mosselbaai is 4 000 liter water vir die gemeenskap ingesamel. AfriForum het ’n noodfonds waar donasies gemaak kan word om die behoefte op voetsoolvlak te help verlig. Gaan na www.afriforum.co.za  en klik op die “skenk nou”-knoppie om ’n bydrae te lewer.

Die Malmesbury-gemeenskap kan voortaan uitsien na noue samewerking tussen die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die AfriForum-strukture op dié dorp. Dit volg nadat die AfriForum-buurtwag in Malmesbury, wat onlangs gestig is, reeds goed op dreef is en al verskeie suksesse behaal het. Buurtwaglede het die SAPD al onder meer tydens optogte in die dorp ondersteun, asook ná ’n diefstal op ’n plaas toe die misdadigers te voet gevlug het.

AfriForum se tak in Krugersdorp het met die hulp van meer as 100 vrywilligers asook verskeie ander organisasies en politieke partye die Sterkfontein-begraafplaas skoongemaak. Daar is onder meer gras gesny en bossies verwyder. In Sasolburg het die AfriForum-tak ongeveer 5 hektaar gras gesny en in Klerksdorp het die tak met die gemeenskap hande gevat om bome te snoei, gras te sny en vullis te verwyder.

Vrywilligers help om in Klerksdorp bome te snoei, gras te sny en vullis te verwyder.

Soortgelyke plasings