Ná wegholsukses is Die Kaplyn se speelvak tot 4 Junie verleng

Die musiekblyspel Die Kaplyn, wat aanvanklik net vanaf 26 April tot 21 Mei by die AfriForum Teater opgevoer sou word, se speelvak is nou tot 4 Junie verleng. Dit volg ná die wegholsukses van die eerste speelvak se kaartjieverkope.

Die Kaplyn is ’n aangrypende verhaal van die gebeure tydens die Grensoorlog in die 1980’s. Die produksie word met trots aangebied deur AfriForum Teater en Inhoudhuis Musiek, die skeppers van die gewilde Die Gelofte-musiekblyspel van 2022.

Die teks is deur Johan Vorster en die regisseur Jannes Erasmus geskryf, musiek en lirieke is deur Vorster en Jacomien de Wet behartig, terwyl die orkestrasie deur Francois Lessing en musiekregie deur Vorster en Lessing versorg is.

“My inspirasie om hierdie storie te skep, was die verhaal van die verlore seun in die Bybel. Die musiekblyspel vertel die verhaal van ’n seun wat terugdraai na sy pa se huis. Dit is simbolies van ’n nasie wat terugdraai na God,” sê Vorster.

“Die oorweldigende positiewe reaksie van die publiek op Die Kaplyn en die kaartjieverkope het AfriForum Teater se verwagtinge oortref. Dit maak dit moontlik dat ons nou die geleentheid aan nog meer mense kan bied om dié musiekblyspel te kan sien,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

“Ons is baie dankbaar vir die verlenging, want net soos met Die Gelofte voel ons dat dit nog net die begin is van die boodskap,” sê Vorster en De Wet.

“Dis wonderlik dat Die Kaplyn verleng kan word. Musiekblyspele is só ’n wonderlike manier om verhale te vertel en Jannes, Johan en Jacomien het dit hierdie keer weer meesterlik reggekry! Dit is beslis ’n móét sien,” sluit Carien Bloem, teaterbestuurder van AfriForum Teater af.

Kaartjies vir die tweede speelvak van Die Kaplyn is nou beskikbaar by www.diekaplyn.com.

Soortgelyke plasings