|

Nuuskommentaar: Erfenis blom waar gemeenskappe betrokke raak

Indien ’n mens slegte nuus oor erfenis in Suid-Afrika soek, is daar heelwat berigte. Van die mees neerdrukkende berigte handel oor die parlementsgebou wat ná die brand op 2 Januarie 2022 nog steeds nie gerestoureer is nie. Ambisieuse planne is aangekondig vir die herbou daarvan, maar tyd sal leer hoe die proses gaan afloop.

Elders is daar ook slegte nuus, byvoorbeeld oor diefstal uit Steynsburg se museum, standbeelde wat onder vandale deurloop en selfs grafrowery in Noordwes.

Goeie nuus oor erfenis tref dalk nie so gereeld die kollig nie, maar is enige tyd meer volop as die slegte nuus.

Oral waar gemeenskappe inspring en die hand aan hulle eie erfenis hou, gedy dit.

Een van die mooiste voorbeelde is die Heldeakker en begraafplaas in Kerkstraat, Pretoria. Van ons grootste politieke en kulturele leiers is daar begrawe – van Paul Kruger tot Eugène Marais. Dit is ongelukkig in ’n redelik onveilige omgewing geleë en het oor die jare begin verval. ’n Groep organisasies, wat onder meer AfriForum, die FAK, Rapportryers Beweging, skole en kommando’s van die Voortrekker Beweging insluit, het met die metroraad begin saamwerk om hierdie kosbare erfenisbaken in stand te hou. Sowat een keer per maand word die publiek op ’n Saterdag genooi om die begraafplaas te kom besoek. Hulle kan aan die instandhoudingsprojekte deelneem of sommer net die rustige atmosfeer geniet.

Uit alle uithoeke van die land kom daar nog nuus oor soortgelyke projekte. Drie jaar gelede het Mostert se Meule in Kaapstad tydens ’n wegholveldbrand in die slag gebly. Net die buitemure van dié gebou wat in ongeveer 1796 opgerig is, het bly staan. Hoewel dit aan die staat behoort, het ’n groep entoesiaste nie gewag vir die owerhede om met die beskerming van die ruïne en herstel van die meule te begin nie, maar self deskundige hulp opgespoor, fondsinsamelings onderneem en met die restourasieproses begin. Binne drie jaar is die werk afgehandel en maal die meule weer koring waarvan brood gebak word. In die proses het die betrokkenes nie net nuwe vaardighede aangeleer nie, maar ook ’n woordeskat herontdek wat die onderdele van ’n windmeul beskryf. Selfs taal het dus by die reddingspoging gebaat!

Museums kan aan toeriste ’n besondere blik op die geskiedenis van ’n omgewing bied. By museums soos dié van Bethlehem en Talana is spanne vrywilligers betrokke om besoekers te ontvang, uitstallings aan te vul, inligting daaroor te ontsluit en dit in stand te hou. Projekte word ook onderneem om die terreine vir meerdoelige aanwending te ontwikkel, sodat dit so ver as moontlik onafhanklik van owerhede bedryf kan word.

Nuwe museums kom selfs tot stand, byvoorbeeld by Paul Roux en die Settlers Landboumuseum.

Deur die takke van organisasies soos die FAK en AfriForum word standbeelde gerestoureer en historiese terreine opgeknap. Die FAK se rol by die Voortrekkermonument en AfriForum se onderhoud van die Ou Presidensie in Bloemfontein se tuin is inspirerende voorbeelde.

Geleenthede om by suksesstories soos hierdie betrokke te raak, is volop. Dit vra nie reusebydraes nie – elke persoon wat ’n paar uur vrywillig help, maak ’n verskil. Elkeen kan sorg dat ons verlede ’n toekoms het.

Soortgelyke plasings