|

Nuuskommentaar: Kies ’n oplossing wat vir jou werk teen die ANC se mislukkings

Luister hier na die artikel:

Die winde van verandering is reg deur die land besig om te waai en landsburgers besef elke dag dat hulle baie vinniger na nuwe oplossings moet soek vir die klaaglike mislukkings onder die ANC-regering.

Die weerstand teen die vergrype van ANC-korruptes en hul arrogansie om voor te gee die wanbesteding van belastinggeld is nie so erg nie, laat al hoe meer Suid-Afrikaners en selfs die ANC se  getroue ondersteuners, rooi sien.

’n Verslag wat AfriForum pas oor die mislukkings van die ANC vrygestel het, lees soos ’n riller. Dit is duidelik dat die regering op elke terrein waar dit veronderstel is om te regeer en gewone mense se lewens te verbeter, klaaglik misluk. Of dit nou onderwys, gesondheid, vervoer, veiligheid, water en sanitasie of openbare instellings is. Nêrens kan van uitnemende dienslewering gepraat word nie. Inteendeel, die staatskoffers is dolleeg geplunder, en Suid-Afrika se skuldlas is hemelhoog. Desondanks kry ministers en hul adjunkte astronomiese salarisse van meer as R2 miljoen per jaar en hope ander byvoordele.

Omdat dit ’n gegewe is dat die ANC-regering ’n kakistokrasie (regering deur die slegstes) en korruptokrasie is, het gewone mense geen ander keuse as om self verantwoordelikheid vir hul toekoms te neem nie en te help werk aan oplossings wat hul voortbestaan hier sal verseker.

Die Solidariteit Beweging het ’n sewebeen- federale toekomsplan wat dit vir elke Afrikaner moontlik maak om by een van die opsies in te koop om sy of haar toekoms te help verseker.

Eerstens kan jy deel word van sterk, selfstandige ankergemeenskappe. Dié gemeenskappe is dorpe op die platteland waar daar ’n groter konsentrasie van Afrikaners is wat dit vir hulle moontlik maak om saam te staan en meer selfstandig te wees op terreine soos onderwys, gesondheid, maatskaplik, veiligheid en gemeenskapsekonomie. Tweedens wys demografiese werklikhede dat die Wes-Kaap vir al hoe meer Afrikaners ’n opsie is waarheen hulle wil trek of wil werk. Derdens is Pretoria tans die plek met die grootste enkele konsentrasie van Afrikaners. Dit is moontlik om ’n paar ankergemeenskappe binne Pretoria te vestig waar Afrikaners as gemeenskappe hulself beter kan organiseer om byvoorbeeld dienste te lewer. Orania is ’n vierde opsie waar Afrikaners nie net hul kulturele infrastruktuur beheer nie, maar ook fisiese infrastruktuur soos paaie, rioolwerke, sonkrag en ontspanningsgeriewe.

In die vyfde plek het duisende Afrikaners besluit om die land te verlaat en sommige is in die proses om dit te doen. Hulle kan nooit verkwalik word vir hul besluit nie en talle van hulle het familielede wat agtergebly het. Al woon hulle nie meer hier nie, wil hulle ook ’n rol speel om die omstandighede in die land te verbeter vir hul geliefdes wat nog hier is. Goeie verhoudinge met die Afrikaner-diaspora kan tot hul eie sowel as Afrikaners wat gebly het se voordeel wees.

Die sesde been van die plan behels die bou van eie, selfstandige instellings. Openbare instellings soos universiteite en kolleges is onder die ANC vernietig en die aanslag op Afrikaanse skole duur voort. Om ’n toekoms vir ons nageslag te skep, moet ons eie instellings soos Sol-Tech en Akademia bou.

Laastens weet ons as Afrikaners dat ons nooit in isolasie in die land kan bly nie. Ons as minderheidsgroep en kultuurgemeenskap deel die land met ander verskeie kultuurgemeenskappe. Dit is eenvoudig tot ons almal se voordeel om op grond van wedersydse respek en erkenning in vrede saam te leef. En mekaar die son te gun wat oor ons almal skyn.

Soortgelyke plasings