|

Nuuskommentaar: Minister wat meen munisipaliteite verbeter leef in droomwêreld

Thembi Nkadimeng, minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, het hierdie week gesê munisipaliteite toon ’n merkbare verbetering. As ’n mens meetbare standaarde gebruik om te bepaal of munisipaliteite wel verbeter het, lyk dit glad nie of dit die geval is nie. Dit wil voorkom asof die minister in ’n droomwêreld leef, maar sy het ’n verduideliking.

Nkadimeng het by dieselfde geleentheid waar sy gesê het munisipaliteite vaar beter gesê wanfunksionele munisipaliteite het van 2021 tot 2022 van 64 tot 66 vermeerder, maar daar is volgens haar rede vir optimisme omdat daar “werklik merkwaardige transformasie” in ander kategorieë plaasgevind het. Sy baseer haar optimisme op die laer vlak van medium- en laerisikomunisipaliteite. Laasgenoemde twee het volgens haar onderskeidelik van 111 tot 107 en van 66 tot 54 gedaal.

Die vraag is egter waarop haar syfers gebaseer is? Enkele voorbeelde uit hierdie week se nuus laat dit lyk of munisipale dienslewering steeds op die afdraande pad is. AfriForum het gister die organisasie se nuutste blou-en-groendruppelverslag bekendgemaak. Hierdie verslag word jaarliks opgestel uit honderde watertoetse wat regoor die land gedoen word. Die Departement van Water en Sanitasie het vir tien jaar nie hulle amptelike verslae bekendgemaak nie. AfriForum se verslag toon byvoorbeeld dat net 19% van rioolaanlegte aan minimum standaarde voldoen. Nie eens die Wes-Kaap behaal ’n slaagsyfer vir aanlegte wat aan die standaarde voldoen nie. Die Vrystaat en die Oos-Kaap het nie een aanleg wat op peil is nie.

Swak of geen dienslewering het egter die norm op verskeie plattelandse dorpe geword.

Vra byvoorbeeld inwoners van Parys om hul munisipale probleme te lys en op enige dag kan dit water- en kragonderbrekings, slaggate in die strate of riool wat vrylik êrens vloei wees. AfriForum se blou-en-groendruppelverslag het ook getoon dat die drinkwater in Parys onveilig is.

Dis ook nie net in kleiner dorpe waar daar probleme is nie. Die DA het vandeesweek in Pretoria betoog oor droë krane in dié stad. In sommige woonbuurte is daar al vir bykans twee maande nie water nie. Solly Msimanga, DA-leier in Gauteng, het die optog gelei. Hy het by dié geleenthede ook genoem van gereelde wateronderbrekings in Johannesburg.

Nkadimeng is beslis ook nie die enigste politikus wie se kop in die wolke is nie. Rapport het Sondag berig oor spysenering op pres. Cyril Ramaphosa se straler wat R569 000 beloop het toe dié vliegtuig gebruik is om gaste terug van koningin Elizabeth II se begrafnis te vlieg. Dié vliegtuig kan ’n maksimum van 18 passasiers vervoer wat neerkom op amper R24 000 per persoon vir net die spyseniering. R24 000 is genoeg om ’n lae inkomste gesin van vier vir amper sewe maande van basiese maar voedsame kos te voorsien.

Politici word dikwels ook nie blootgestel aan die ongerief van beurtkrag nie en met lekker vet salarisse is hulle heeltemal uit voeling met hoe hul kiesers leef. Miskien is dit tyd dat hulle uit hul droomwêreld terug aarde toe kom en die werk doen waarvoor hulle betaal word sonder om belastingbetalers se geld te mors.

Soortgelyke plasings