|

AfriForum se Walker Drive-buurtwag trek kabeldief vas

AfriForum se Walker Drive-buurtwag in die Baai het op 10 November ’n koperkabeldief op heterdaad betrap en vasgetrek. Dit volg nadat ’n AfriForum-buurtwaglid opgemerk het hoe ’n individu kabels uit ’n kragboks in Kabegaweg trek.

Die verdagte is in hegtenis geneem en aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oorhandig. Atlas Sekuriteit het bystand gelewer totdat die SAPD op die toneel gekom het.

“As gevolg van die buurtwaglid se oplettendheid, fyn waarneming en vinnige optrede kon die verdagte suksesvol gearresteer word. Die gemeenskap is die oë en ore in ’n buurt en daarom is gemeenskapsbetrokkenheid by ’n buurtwag uiters noodsaaklik. Ons doen ’n dringende beroep op die gemeenskap om by hul plaaslike AfriForum-buurtwag in te skakel en voorvalle soos dié – waar misdaad met die hulp van die gemeenskap hok geslaan kan word – te takel,” verduidelik Hannes Oosthuizen, buurtwagleier van AfriForum se Walker Drive-buurtwag.

“Ons kan eenvoudig nie toelaat dat belangrike infrastruktuur afgebreek en weggedra word nie. Kabeldiefstal veroorsaak groot skade en verliese, nie net vir munisipaliteite nie, maar ook vir sakeondernemings en inwoners. Die polisie kan nie alleen misdaad bekamp nie. Daarom wil ons inwoners aanmoedig om by die buurtwag aan te sluit sodat misdaad daadwerklik bekamp kan word,” sê Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Oos-Kaap.

Raak vandag nog betrokke by jou plaaslike buurtwag.

Soortgelyke plasings