Misdaad
|

Nuuskommentaar: Probleme oorskadu nuwejaarshoop

Met die aanbreek van die nuwe jaar kan ’n mens nie anders nie as om te wonder wat die jaar alles gaan inhou en het ’n mens tog ’n sprankie hoop dat dinge – al is dit net vir ’n kort rukkie – beter gaan wees as die vorige jaar. Terwyl baie mense ná die afgelope vakansie uitgerus en vol moed gereed is vir 2024 het niks in die nuuswêreld of in Suid-Afrika egter verander nie.

Die afgelope twee weke is gekenmerk deur skietvoorvalle, plaasaanvalle, munisipale probleme – veral waterprobleme – en oudergewoonte politici wat opslae maak oor beweerde korrupsie en die uitlatings wat hulle maak.

Nuwejaarsdag was ’n bloedbad toe verskeie mense in Kaapstad doodgeskiet of in mesaanvalle dood is. In Soshanguve, Pretoria, is vier mense, waaronder ’n 14-jarige meisie, in ’n koeëlreën kort ná middernag op 1 Januarie doodgeskiet toe die aanvallers na verneem word in twee voertuie op die slagoffers losgebrand het. Vandeesweek is ’n werknemer van die Kaapstad-metro in haar voertuig op kort afstand deur ’n onbekende man doodgeskiet. Haar man, wat twee maande gelede ook doodgeskiet is, was glo ’n taxibaas. Twee mans het reeds in verband met die voorval in die hof verskyn. AfriForum se Strand Patrol-buurtwag het ’n rol gespeel met die aankeer van die verdagtes nadat ’n lid van die publiek ’n foto van die wegkommotor geneem het en aan dié buurtwag gestuur het. Dié buurtwag het ook beeldmateriaal ontvang wat met die polisie gedeel is en kringtelevisiebeeldmateriaal versamel om die roete van die wegkommotor uit te wys. En net gister (11 Januarie) is nog drie mense in ’n verbyryskietery in Durban doodgeskiet.

’n Mens kan tog ook ’n pluimpie aan die polisielede gee wat spoedig verdagtes in van hierdie gevalle aangekeer het. Vyf verdagtes is ook aangekeer ná ’n plaasaanval buite Ermelo net voor Kersfees plaasgevind het.

Water bly een van die land se grootste kopsere en baie dorpenaars se grondwetlike reg tot water word geskend weens munisipaliteite se onvermoë. Inwoners van Theunissen is bykans ’n maand sonder water en kry water van watertenkwaens nadat die kontrakteur wat aan die dorp wateraanleg gewerk het glo elektriese kabels beskadig het, al die chemikalieë in ’n suiweringsdam gegooi en toerusting beskadig het. Dit omdat hy ontevrede was omdat hy nie betaal is vir die werk wat gedoen is nie. Dié kontrakteur se watertenkwaens kos die munisipaliteit ook duisende rande en inwoners weier om van hierdie kontrakteur se watertenkwaens te gebruik.

Verder dreig die VF Plus die Vhembe-distriksmunisipaliteit ook met regstappe weens die jare lange watertekorte in dorpe in Limpopo.

Al hierdie waterprobleme het ook ’n direkte impak op die gehalte gesondheidsorg wat klinieke en hospitale moet lewer. Bo en behalwe hierdie en talle ander gesondheidsorguitdagings is daar ook vandeesweek berig dat honderde gekwalifiseerde dokters sonder werk sit en dat eise vir mediese nalatigheid heelwat meer is as wat beplan is. Baie kenners meen dat dit net nog tekens is dat die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) nie werkbaar is nie. AfriForum hou die gebeure rondom die NGV fyn dop en sal steeds die nodige stappe doen om die organisasie se teenkanting te wys.

Dit is boonop verkiesingstyd en ons kan verwag dat die ANC elke toertjie in die boek gaan uithaal om hul kiesers se steun te behou. Selfs al het die jaar met hierdie nuusgebeure afgeskop, is AfriForum gereed om volstoom voort te gaan om aandag aan munisipale kwessies te gee, om voort te bou op elke buurtwagsukses wat in 2023 behaal is en om steeds moue op te rol en te sê “Ons sal self”.

Soortgelyke plasings