|

Nuuskommentaar: Wedloop van die lewe

Ons hier aan die suidpunt van Afrika is weer die afgelope weke gekonfronteer met slegte nuus: Daar het verskeie plaasmoorde plaasgevind, die regering het rasgebaseerde wetgewing aangekondig en die Nasionale Gesondheidsversekering-wetsontwerp is deur die parlement goedgekeur. Om alles te kroon beleef die Wes-Kaap ook oorstromings wat skade veroorsaak.

Soveel slegte nuus oor so ’n kort tyd kan ’n mens moedeloos en magteloos laat voel; daardie bestaansvrees wat darem gewoonlik deur elke dag se aktiwiteite uitgedoof word, borrel na die oppervlakte.

Dit is veral die onsekerheid wat baie spanning by ’n mens veroorsaak. Een hartseer werklikheid van ons tyd is dat baie mense ontkersten het – daar word nie meer geglo soos wat ons voorouers geglo en vertrou het nie. As gevolg hiervan is moderne Westerlinge en mense oor die algemeen baie ongemaklik met onsekerheid.

Die reusespronge in tegnologiese vordering het verder by mense die wanindruk geskep dat onsekerheid uitgeskakel kan word – en behoort te word. Die praktiese gevolge van hierdie vrees vir onsekerheid en tegnologiese vordering is dat geïsoleerde individue sekerheid by die staat soek en van die staat verwag om sekerheid te gee – gewoonlik ten koste van vryheid. Wanneer die staat egter faal, voel dit vir dié mense dan of die mat onder hul voete uitgeruk is.

’n Tweede plek waar mense sekerheid gaan soek, is by ideologie. Daar is iets baie menslik, en dalk ironies in die feit dat, veral ongelowiges, God in ideologie gaan soek en dat ideologie dan godsdiens vervang. Die praktiese gevolge hiervan is dat mense wat dan nie die ideologie aanhang nie, of ’n alternatiewe ideologie aanhang, óf nie aan die uitvoering van die ideologie deelneem nie, as ketters gesien word, wat gekanselleer moet word. Ons sien groot maatskappye wat ideologie blatant bevorder – totaal irrasioneel tot hul eie nadeel.

Wat moet ons as gelowiges onder sulke omstandighede hier op aarde doen? Een manier om die opdrag van die Here aan sy kinders hier op aarde te vereenvoudig, is om te sê dat ons altyd moet streef daarna om die waarheid te bevorder; om die waarheid te soek. ’n Mens moet egter nie waarheid of werklikheid en sekerheid met mekaar verwar nie. Baie mense verwag dat die werklikheid, of die waarheid, baie seker moet wees. Die werklikheid is egter dat daar altyd onsekerheid bestaan het en sal bestaan. Vir ’n gelowige mens is dit makliker om met onsekerheid saam te leef – want waar mens onseker is, vertrou mens.

Dalk is die belangrikste saak vir ons om in gedagte te hou, dat, hoewel ons hier op aarde is, dié deel van die wedloop waaraan ons deelneem, maar kortstondig is. Al bevind ons onsself in die tydelike, met al die uitdagings wat daarmee gepaard gaan, lewe ons met die oog op die ewigheid. Die Here het elkeen van ons met gawes geseën wat ons kan gebruik om saam ons daaglikse omstandighede te verbeter en dit moet ons tot die beste van ons vermoë doen.

Ons moet egter terselfdertyd berusting vind in die werklikheid dat ons elkeen slegs kan bepaal wat die regte ding is om te doen en dit dan doen – en dan die Here te vertrou met die uitkomste.

Soortgelyke plasings